God se Woord in vandag se woorde

Ek het die Lotto te wen! – Romeine 10:5-13


Kliek hier om die teks te lees: Romeine 10:5-13

Ek kry ’n tydjie terug ’n e-pos wat sê dat ek 1 miljoen pond gewen het! Ek raak aan die bewe en opgewonde, want ek weet die wisselkoers met die pond is oor die R18. Sjoe pappie, hier kom dit nou. Die boot is in die hawe!

Maar hoe meer ek hieroor dink, hoe meer duik die vraagtekens op. En ewe skielik kom die sê-ding van my vrou in my kop: As djy wil wen, dan moet djy enter! En ek weet ek het nie ge-enter nie. Dit is te goed om waar te wees en die spreekwoord sê mos as dit te goed is om waar te wees, dan is dit gewoonlik. Ons het geleer dat niks in die lewe meer verniet is nie. As iets te goedkoop of selfs verniet is, kan ons dit nie meer aanvaar nie, want ons dink sommer by voorbaat dat daar iets verkeerd moet wees. Êrens kruip daar ’n slap riem weg. Dit is te goed om waar te wees! As jy nie daarvoor gewerk het nie, as jy nie tyd en moeite daaraan spandeer het nie, is dit nie die moeite werd nie en sommer net ’n scam soos die brief wat ek van die Lotto Plus gekry het.

Dit is dalk hoekom dit vir baie mense moeilik is om genade, verniet geskenke van God te aanvaar, te vat en hul eie te maak. Ons kultuur is anders. Maar by God werk dit die teenoorgestelde. Hier kry jy dit verniet. Hier is dit vir jou kosteloos en nêrens kruip daar ’n slap riem weg nie. Hoe word jy ’n kind van God? 9… Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. 10As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. Nie as jy dit of daai doen sal God jou vryspreek nie. Nee, glo in Hom en Hy kom oorspoel jou met al sy geskenke. Verniet. Al was die brief hier bo waar en al het ek meer as R18 000 000 gewen, is dit nog nie naastenby die prys van die hemelse prys nie. Hierdie hemelse prys is lewensgewend. Dit red jou van die ewige hel se vuur. Dit red jou van baie, baie pyn.

Jy mag dalk vra: wat dan van die spreekwoord van djy moet enter? Ek het nie ge-enter vir die Lotto nie. Goeie nuus! God het reeds voor die begin van die wêreld jou naam ge-enter in die boek van die lewe. Hy het die inskrywing self gedoen. Is God nie wonderlik vir ons nie?

En die trekking? Dit het op Golgota gebeur. Sodat almal wat in Hom glo, wenners kan wees!

Maar die hemelse prys kry jy nie eers aan die einde van die wêreld of wanneer ons nie meer op aarde is nie. Dit begin reeds nou. Daarom hierdie belofte: 11… “Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.”

Dit is wonderlik! God sal jou altyd help!

Verstaan jy nou ’n bietjie meer van God se liefde vir jou? God gee vir jou ’n allemintige geskenk wat baie groter is as enige Lotto. Hier wen almal die eerste prys. Jy hoef niks te doen om in te skryf of ’n kaartjie vir deelname te koop nie. Omdat jy glo, is die eerste prys ook joune.

Dit maak nie lekker sin in ons menslike wêreld nie, maar dit is wat God met graagte vir jou kom doen. Moenie hierdie hand wat uitreik na jou ooit wegklap nie.

Om oor na te dink

Wat steek in jou hart vas?

Is daar dalk iemand vir wie jy hierdie teks moet gaan gee, maar jy is te bang?

Leef jy hierdie genade geskenk van God?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek