Emmers vol gebede – Romeine 12:9-21
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 12:9-21
Swaar tye kom. Dis nou maar wors. Ons wat kinders van God is kry ongelukkig nie ’n binnebaan nie. Ons word nie ’n gelyk pad gewaarborg nie. Inteendeel!
’n Kind van God vertel uit sy hart vir my:
Ek woon op ’n plaas. Tans is dit droog by ons, maar die ander boere kry reën. Wanneer hulle 30 mm kry, kry ons 8mm, dit breek enige boer se moed. Veral na die versengende hitte van die afgelope tyd wat droogte veroorsaak het.
Logies is hulle velde lowergroen en ons veld nog vaal met so te sê geen kos om te eet vir die diere.
Ek het nou al so baie gebid dat die Here vir ons ook reën moet gee sodat ons veld ook so mooi kan wees soos die bure s’n en ons diere weer ’n groenigheid kan hê om te eet. Die weer kom op en ons is opgewonde. Dan reën dit weer net stoep nat en die bure kry lekker reën.
Maandag toe ek werk toe ry, het ek vir die Here gesê ek gaan nou eers ophou bid, want ek dink ek bid nie reg nie en ek weet in elk geval nie wat om te sê nie, so ek hou liewers eers op om te bid.
En so het ons elkeen ons eie storie van droogte. Droogte in ’n verhouding, droogte by die werk, droogte by die geldsake, droogte by die besigheid. Droogte by… Dit is die realiteit.
Soms raak dit net te veel en dan voel dit of ons gebede nie veel vêrder as die plafon trek nie.
Paulus is in die proses om ’n klompie voorstelle vers vir vers aan die Romeine te gee. Oor swaarkry maak hy die volgende voorstel:12Sien met blydskap uit na daardie dag waarop die Here alles nuut kom maak. Moenie mismoedig word as julle ly omdat julle Christene is nie. Bid sonder ophou.
Dis amper te vinnig. So asof hy nie die hel verstaan waardeur ons moet gaan nie. Tog weet ons dat Paulus ken van lyding. Ons weet waar sy kop rondgedra is.
Hierdie is ’n hoërgraad manier van lewe tussen die swaar. Op ’n manier laat Paulus ons verstaan dat ons nie ’n binnebaan het nie, dat ons moet weet en verstaan dat swaar soms (of gereeld) aan ons deur gaan kom klop, dat ons nie ons speelgoed uit die cot moet gooi nie, maar dat ons eerder moet bid.
Ek het ’n sterk vermoede dat Hy nie die voorstel van bid sou maak as hy nie goeie ondervinding gehad het dat dit wel sal werk nie.
Ons moet bid en glo dat gebed werk. Ons moet glo dat, al voel of lyk dit nie so nie, God altyd ons gebed hoor. Ons moet bid, al voel dit of ons gebede nie veel vêrder as die plafon trek nie. Ons moet bid met die wete dat God nog in beheer is, al voel dit nie so nie en al sê mense ook wat. Ons moet bid, nie om net by antwoorde uit te kom nie, maar om by God uit te kom.
Op ’n manier sal God deurkom. Ja, dalk nie soos ons wil nie, maar soos sy wil is. Dalk reën dit weer op hulle plase. Wag geduldig. Bid geduldig. God hoor en jou reën sal weer uitsak. Emmers vol. OP ’n tyd wat Hy goeddink. Jy moet net op Hom vertrou en glo dat Hy die beste weet, al verstaan jy nie altyd nie.
Om oor na te dink
Waar is jou swaar?
Bid jy?
Glo jy dat God hoor?
Glo jy dat dit help om te bid?