… en God is tevrede
’n Groot vriend van my is ’n sendeling in Oekraïne. Hulle help die kerk om op te staan en ’n verskil te maak daar waar hulle gaan. Die klein gemeentetjies wat reeds bestaan, het niks. Eintlik kan hulle nie oorleef nie, maar hulle kan nie anders as om Jesus se boodskap orals waar hulle gaan, uit te basuin nie. Met die niks wat hulle het, maak hulle planne om na Rusland te gaan om sendingwerk te gaan doen.
My mond hang oop!
In een van sy nuusbriewe vertel my vriend meer van hoe dit op die straat in Oekraïne gaan. Een van die predikante, Ivan, gee ’n kykie in sy daaglikse lewe (dit was net nadat die president onttroon is en Rusland die land ingeneem het):
We are doing good. I have been to Krasnodon. I cross the border where the gangs control the situation. I was doing Sunday service there. Situation is terrible: People don’t get salary and pension. There is nothing in shops. No water. Telephones don’t work, no petrol. I took with me flour and yeast, as much as I could bring in hands (I cross the border by foot). My heart is absolutely broken. People were very glad to see me. We pray – people cry. They can’t leave because of different reasons. We had Sunday service and on next street was shooting. People even not afraid of shooting. God was with me and I got home safely. I was in camp for refugees in Russia. Every one there is unbelievers. People are very closed. They didn’t want to listen the gospel.
Ivan het niks, maar op ’n manier help hy ander mense wat nog minder as niks het. Ek wonder by myself hoe mense minder as niks kan hê nie.
In dieselfde nuusbrief bring my vriend dit nader aan die huis:
In die einste wêreld ontmoet ons laasweek vir Hugo (naam verander) in Kaapstad, ’n aktuaris wat teen 80% van sy salaris werk – sodat hy Donderdae in Khayalitsha gemeenskapstransformasie kan doen. Elke professionele persoon in sy dissipelskapsgroep het ’n eie NWO (nie-winsgewende organisasie) gestig om hel weer hemel te maak. Hierdie manne hou roepingseminare om ander aan te spoor om ook hulle roeping uit te leef.
Op ’n studentedorp is daar ’n finalejaarstudent met ’n NWO – hy leer kinders kano ry – sorg vir skoolfonds, skoolklere en ekstra klasse.
In ’n Bolandse dorp is ’n mans bybelstudiegroep wat pa staan vir ’n gemeenskapsprojek, ’n prokureursfirma wat iemand aanstel om kinders met wiskunde te help, ’n Trust wat kinders wat uitval in die skool, oplei en in beroepe plaas. Hel wyk altyd vir ’n visie van die hemel!
En praat jy met elkeen van die mense, dan sien hulle nie hulleself raak nie, maar vir God wat deur hulle werk. En êrens weergalm die teksvers: Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (Fil. 4:13).
Dan maak Paulus se opdrag ook net meer sin: 17Die Bybel sê: “As jy wil spog, spog dan oor wat die Here doen.” Al jou eie groot dade waarmee jy so graag spog, tel in elk geval nie voor God nie. 18Nee, al wat saak maak, is dat God met jou lewe tevrede is.
En ek weet met my hele hart dat God tevrede is met die Oekraïniese prediker, die aktuaris van Kaapstad, die student en daai mense in die Bolandse dorp. Hulle is beskikbaar, want hulle weet hulle is net die voertuig waardeur God ’n moewiese verskil in baie mense se lewens wil maak.
Die groot vraag wat dan nou in my hart lê: Is God tevrede met my?
Teks:
Om oor na te dink
Is jy beskikbaar vir God om deur jou te werk?
Maak jy ’n verskil waar jy gaan?
Is God tevrede met jou lewe?
Gebed
Vader, ek sak my kop so-effe in skaamte, want ek weet dat daar nie altyd ’n verskil is waar ek gaan nie. Ek weet dat ek nog nie genoeg plek los vir U om deur my te werk nie. Tog wil ek met my hele hart uitroep: Here, ek wil beskikbaar wees vir U. Help my om weg te kyk van myself sodat ek bruikbaar kan wees vir U. Amen