Erg vol kattekwaad, maar nie Godloos
Ons was vyf makkers op skool wat nog steeds tjommies is. Ons was nogal stout op skool. Nou nie lelik stout nie, maar akademie het nie een van ons aangestaan nie en ons het elke moontlike rede uitgedink om skool vir die dag mis te loop.
As die verskoning van ’n seer maag nie gewerk het nie en ons noodgedwonge wel skool toe is, het dit nie verder as die eerste periode gegaan nie, want dan is ons vyf op ons fifties (dis nou motorfietse) daar weg.
Nee, almal het nie motorfietse gehad nie en van ons is sommer ge-lift – wat nou nie heeltemal toelaatbaar was nie. En ’n tweede valhelm was nie deel van die mondering nie, want ek sê mos jy mag eintlik nie nog ’n passasier op die motorfiets gehad het nie.
Menige male het ons Risk gespeel by die een tjommie wat onder by die spoor gebly het.
Ek vermoed oueraande was nie so lekker vir my ma nie. Haar onderlip het altyd so geblink as sy die handsakkie vasgeklem het met die instap by die eerste afspraak, gewoonlik die Afrikaanse juffrou. Nie een van ons het ooghare vir haar gehad nie en ek vermoed dit was wedersyds.
Wanneer my ma dan uitgemergel by die huis kom, val sy moeg op die bank neer en sê by elke onderwyser loop dit soos ’n goue draadjie deur: “Hulle is goddeloos”.
Goed, ek erken. Ons was nie van die maklikste in die klas nie. Ons boude het gereeld gebrand en ons het gedink skool is vir die voëls, maar goddeloos? Nope! Ons almal het op ons manier vir God gedien en het regtig aan ’n verhouding met Hom gebou. Hoe kan hulle dan sê ons is goddeloos? Beteken dit dan nie dat ons dan sonder God is nie?
Ek trek die HAT nader en dit sê presies dit: “1. sonder [geloof in] God, sonder godsdiens; 2. sedelik sleg en verdorwe, sondig; 3. erg sleg, vreeslik, verskriklik”. Maar dan kom daar ’n vierde vertaling by: “erg ondeund, vol kattekwaad”. Ek moet erken dat laasgenoemde dalk ’n raakvat beskrywing van ons is.
Wanneer die skrywer van Hebreërs die volgende sê: 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, verwys hy uiteraard nie na die laaste vertaling van erg ondeund of vol kattekwaad nie. Hy sê mense moenie sonder God die lewe probeer leef nie. Hulle moenie hulle rug op God draai nie.
En as jy tot hier gelees het, vermoed ek dat jy dit nie doen nie. Jy probeer op jou manier, deur die geswoeg van die lewe, deur al die aandagafleiers, elke keer terug en nader aan God beur. En mooi so, mag jy dit al hoe meer regkry.
Die woordjie “sorg” in die vers, sê baie meer as net ek en jy wat nie goddeloos moet wees nie. Ons moet sorg, ons moet toesien, ons moet alle stoppe uittrek om seker te maak dat die mense in ons invloedsfeer vir God deel maak van hulle lewe.
Hierdie is ’n groot taak. Dis ’n groot verantwoordelikheid en opdrag wat aan ons almal toevertrou is. Laat ons die Heilige Gees vra om ons oë en ore oop te maak en ons te wys wie wil Hy hê moet ons gaan aanpraat, trek en stoot om God in hulle lewe in te nooi.
Teks
Hebreërs 12:12-17
Om oor na te dink
Met wie moet jy oor God in hulle lewe gaan praat?
Wanneer kan jy?
Hoe kan jy?
Gebed
Vader, ek besef my verantwoordelikheid. My hart pyn vir hulle wat sonder U leef. Gee my krag en wysheid om hulle van U te wys en indien nodig, gee ook asseblief die woorde. In Jesus se Naam, amen.