Evangelie 101
En nou vir die laaste een uit Efesiërs en eintlik is hier nie ’n teksvers by nie, maar ’n storie van ’n vriend van my wat alles so lekker saamvat. Dit is die 101ste stuk vanuit Efesiërs, daarom die naam Evangelie 101.
My vriend kom hier ingehol. Hy is baie opgewonde oor die preek van Sondag, want vir die eerste keer verstaan hy iets oor geloof en die Here dien en so.
Hy wag nie eers vir sy gewone koppie Rooibos nie en begin borrel oor wat die leraar gister in die kerk gesê het. Hy som die preek in een sin op: As jy lanklaas in die kerk was en jy kom terug, dan kom jy terug soos wat jy laas uit die kerk uitgestap het.
Hy sien die vraagtekens in my oë raak en hy skiet uit die heup: Ek het jou mos vertel dat ek al in die tronk was. Nou ja, die dag toe ek by die tronk se deure uitgestap het, was die lewe daar buite heel anders. Ek was egter nog net soos toe ek daar ingestap het. Ek het die groei in die wêreld gemis. Omdat ek nie daar was nie kon ek nie saam groei nie, kon ek nie saam leer nie, kon ek nie saam ontwikkel nie.
Ek begin iets snap. As ons vir God opsy stoot, is daar nie groei nie. Inteendeel, daar is eintlik agteruitgang. Wanneer ek dan eendag weer by God uitkom, is ek nog net daar waar ek laas vir God gelos het. Nee, eintlik ’n end terug, want die kans dat die wêreld of tronk my terug in die verderf gesluk het, is eintlik beter. En soos tyd tussen ons en God inbeweeg, verloor ek my skild. Dan word ek al hoe meer blootgestel en raak ek ’n sagte teiken vir die vyand.
My vriend leer my baie met sy eerlikheid dat hy in die tronk was. Hy leer my ’n groot les: Moenie toelaat dat tyd tussen jou en God kom nie, want dan staan jy stil of beweeg selfs ’n end terug. Soos die Engelsman sê, jy backslide.
Ons agtienjarige dogter het die voorreg gehad om Suid-Afrika by NASA in Houston tydens ’n winterskool te verteenwoordig. Sy was vir drie weke weg. Ons het gereeld ge-Skype.
Soos die dae aangaan het ons agtergekom dat sy anders word. Haar taal het verander en soms woorde gebruik wat ons nie verstaan nie. Die 23 ander lande se verteenwoordigers het ’n impak op haar gemaak en haar horison soveel breër gemaak.
Sy het anders teruggekom. Op ’n manier was sy vreemd vir ons toe sy terugkom, maar hoe meer tyd ons saam met haar deurgebring het, hoe nader het ons weer aan mekaar beweeg. Tyd saam het ons weer aanmekaar gebind.
My vriend se beeld van die tronk het my oë oopgemaak. Ons moet genoeg en gedurig tyd saam met God deurbring. As ons dit nie doen nie, raak ons vreemd vir mekaar en dan raak ek ’n bewegende teiken vir die vyand. Maar wanneer ek genoeg tyd gereeld saam met God deurbring, groei ek, raak my verhouding met God stewiger en is ek baie beter beskerm teen die aanvalle van die bose.
Evangelie 101: Bring tyd met God deur. Bring tyd in God se Woord deur. Bring tyd met ander gelowiges in God se teenwoordigheid deur. Jy sal anders word.
Om oor na te dink
Hoe gereeld kom jy by God uit?
Is dit genoeg?
Ken julle mekaar intiem?
Gebed
Here, daar is basiese dinge wat U vir ons in U woord leer. Help my om dit nie mis te kyk en dan te wonder waarom dinge nie reg loop nie. Amen