God se Woord in vandag se woorde

Fees in die strate


Wanneer die Olimpiese Spele aan die gang is, kyk almal sport. Maak nie saak hoe vreemd of onbekend die sport is nie, almal sit vasgenael voor die skerms. Ek kyk graag na die sewes rugby. Ek was bly oor die brons medalje wat ons span in 2016 by die Rio Olimpiese Spele gewen het. Die goue medaljewenners was Fiji wat die eerste keer in die geskiedenis ’n medalje vir hulle land by die Spele verower het.

Dit was wonderlik om die Fijiane se reaksie te sien waar hulle in die stadions in Fiji na die wedstryd gekyk het. Hulle het gedans en gelag. Sommige se trane het van vreugde geloop. Ek kon my die heldeontvangs voorstel wat hulle sou ontvang sodra hulle in Fiji land. Die strate sal vol mense wees wat saam dans en feesvier.

Amper soos in 1995 toe Francois Pienaar en die manne die eerste Wêreldbeker huistoe gebring het. In ’n bus het hulle deur die strate van die groot stede gery met duisende trotse Suid-Afrikaners wat die strate ingevaar het om saam die goue beker te vier.

In die Bybelse tyd het die mense ook so in die strate die oorwinnings gevier. Weliswaar nie rugbyoorwinnings nie, maar oorwinnings op die slagveld. Dit was die gebruik om na elke oorwinning op die slagveld deur die strate te paradeer en die verslane vyand wat in kettings was aan die skare te wys. Daar is dan feesgevier en almal het op en af gespring oor die vyandige mag wat gebreek is en nie nou meer ’n loerende gevaar is nie.

Daarom gebruik Paulus dieselfde beeld: 15Dit kan ook nog op ’n ander manier gestel word: Jesus het die vyandige geestelike magte en kragte totaal verslaan. Hy het behoorlik bo-oor hulle geloop. Hierdie geestelike magte kan nou net magteloos in kettings voortstrompel terwyl Jesus as die groot Wenner vooruitstap. In hierdie optog word Jesus se oorwinning aan die kruis feestelik gevier. Dit is daar vir almal om te sien.

Ek sien in my geestesoog hoe Jesus deur die strate van die ou dorpe in die Bybelse tyd stap met al die gekettingde magte agterna. Hulle sê nie ’n woord nie, want hulle weet hulle is verslaan. Vir ewig. En die mense juig en sing en dans, want die vyand is oorwin en is nie meer ’n loerende gevaar nie. Almal kon dan verder in vrede leef.

En tot vandag toe het niks verander nie. Die vyand is oorwin en kan nie meer keer dat ons wat in Jesus glo saam met Hom die hemel ingaan nie. Jesus het aan die kruis die geveg gewen. Die oorlog is verby. Ons Koning het gewen. Daarom kan ons soos die mense van Fiji behoorlik feesvier, want net soos hulle sewes rugbyspan as oorwinnaars uit die stryd getree het, net so het ons God as Oorwinnaar uitgetree.

Jesus hoef gelukkig nie elke 4 jaar sy titel as Wenner te verdedig nie. Dit was ’n eenmalige stryd.

Die probleem is dat die lewe van oorwinning nie meer so sigbaar is nie. Oor ’n week of twee of ’n maand gaan die lewe maar net weer aan en die Fijiane vier nie verder fees nie. Hoe lank het ons saam met Francois en die manne feesgevier voordat ons weer in die realiteit van die lewe vasgeval het?

Die uitdaging vir my en jou is om te bly feesvier. Ons moet ’n lewe leef van oorwinning. Ons moet weet ons is aan die wenkant, want dan tree ons anders op as ons ’n krisis moet aanvat. As ek weet dat ek in die wenspan is, begin ek anders en eindig ek anders.

Ek weet dit is makliker gesê as gedaan, maar miskien moet ons eers die wennersmentaliteit aanneem, want dan sal ons kan ervaar hoe dit is om as ’n wenner die dinge van die wêreld aan te vat.

Teks

Kolossense 2:15

Om oor na te dink

Hoe lyk die lewe van ’n wenner?

Wat moet jy doen om soos ’n wenner te leef?

Sal ander dit agterkom?

Gebed

Vader, U sê dat elkeen wat die oorwinning behaal het oor die sonde, eendag saam met U sal regeer. Baie dankie dat U voorgestap het en die mag van die sonde in ons gebreek het. Help ons om ’n lewe van oorwinning te leef. In Jesus Naam.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek