God se Woord in vandag se woorde

Gaan revisit die aftrekplekkies


’n Goeie vriendin maak haar hart oop en vra dat ons tog vir haar moet bid:

Vandag is my gemoed nie lekker. Ek is bekommerd. Ek is erg bekommerd oor ’n 50% salaris sny die einde van die maand. Ek is bekommerd oor my toekoms. Ek is bekommerd of ek aan die einde van die maand en die res van vanjaar my rekeninge sal kan betaal. Ek is bekommerd omdat ek moedeloos raak … en voel dat my gebede nie gehoor word nie. Ek is bekommerd oor hoe ek positief moet bly en die res van die personeel positief moet hou. Ek is bekommerd … omdat ek mens is ….

Tog wil ek vashou aan elke belofte.

Soms is dit makliker as ander dae.

Bid asseblief vandag vir my …

Al hierdie onsekerhede is besig om my mal te maak van bekommernis. Vandag voel ek maar net onseker en bitter bekommerd!

Ons almal ken iemand wat hier is. Die meeste van ons was al hier. Dis nie maklik nie. Dis vir seker nie maklik nie. Die donderwolke net te donker en te swaar om uit die sig te kom. Die gewig van al die verantwoordelikhede net te groot om bo ons koppe te hou. Ons arms bewe en ons wag vir die slag …

Dit is die realiteit in die wêreld om ons. Ons kyk op na die berge en vra kliphard: “Waar sal ons hulp dan vandaan kom?”

Die skrywer van Hebreërs vat ons ’n stukkie terug op ons lewenspad en laat ons onthou van die jonger dae: 32Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie.

Ja, daar was moeilike tye, maar met alles in ons, het ons aan ons geloof vasgehou. Maak nie saak watter balle die lewe na ons gegooi het nie. Maak nie saak hoe bang ons was nie. Maak nie saak hoe onseker ons was nie, ons het net vasgehou aan ons geloof in God en het geweet Hy sal een of ander tyd vir ons verlossing bring. Ons het geweet Hy sal vir ons die oplossing gee.

Nou wat maak dit nou anders? Ek dink ons is al so voos geslaan, dat ons in die omstandighede om ons vaskyk. Die omstandighede om ons is so groot, dat dit ons geloof se suurstofpyp toedruk. Ons snak na asem en dit lyk of die omstandighede ons gaan dooddruk.

Dit is juis hier waar ons moet opstaan en weer elke koelteboom op ons witwarm lewenspad gaan oproep en soos die Engelsman sê, gaan revisit. Soveel keer in die verlede, ook in die kere toe dit erg woes gegaan het, het God elke liewe keer vir ons die oplossing gegee. God het nie verander nie. God se planne het nie verander nie. Hy is nog presies dieselfde omgee- en liefdevolle God.

Dalk is dit net ons wat verander het. Ons het ons oë te laag laat sak en God uit die oog verloor. Laat ons soos in die ou dae weer opkyk en al ons vertroue op God plaas. Nee, ek weet nie hoe nie, maar tog glo ek met alles in my dat God ’n uitkoms sal bring. Hieraan hou ek net vas …

Teks
Hebreërs 10:31-39

Om oor na te dink
Hoe lyk die wolke om jou?
Waar kom jou hulp vandaan?
Kan jy teruggaan op die pad waar God jou gehelp het?

Gebed
Here, dit gaan swaar. Ja, dit voel of my geloof se suurstofpyp toegedruk word. Ek weet en glo dat U daar vir my is. Ek weet U sal vir my die oplossing gee. Ek hoop regtig dat dit gou sal wees. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek