Garage maak nie kar
Ek het altyd gesê dat as ek in ’n gemeente sou staan, ek almal se attestate, dis nou ’n groot woord vir jou lidmaatskapskaartjie, sou terugstuur. Dan sal ons mooi om ’n tafel gaan sit en uit die Bybel hoor wat dit beteken om ’n toegewyde kind van God te wees.
Die gemeentelede kan dan hulle attestate terugstuur as hulle tot hierdie ware Christen-leefwyse instem.
Ek vermoed ’n klompie mense sal erg boos wees. Ek vermoed ’n klomp sal net onder druk van mense om hulle, hulle lidmaatskap hernu. Hier en daar sal ’n paar hulle doen en late in lyn kry en begin lewe soos wat hul kerk verkondig.
’n Vriend van my kuier hier uit Australië. Hy vertel van die land en sy mense en so terloops vertel hy dat as mense daar sê dat hulle Christene is, hulle ware kinders van God is.
In die ou dae het die kerke Sondae gedreun. Almal was in die kerk. As jy nie daar was nie, het die tannie langsaan jou snaaks aangekyk. Dit was die regte ding om te doen.
En tog het hierdie tradisie nie eintlik veel beteken nie. Om kerk toe te gaan, het jou nie ’n Christen gemaak nie. Louis Malherbe het altyd gesê dat as jy in ’n garage slaap, jy nie ’n kar gaan word nie.
Jy moet eerstens Jesus as jou persoonlike verlosser aanneem. Jy moet jou skuldpakkie daar voor Sy voete gaan neerlê, berou daaroor hê en as jy dan as kind van God ingelyf word, moet jy so gaan lewe.
Dan moet mense deur die week sien dat jy werklik agter Jesus aanstap en nie net Sondae in kerk gaan sit en wag dat die eindfluitjie blaas om net weer daarna te gaan leef soos die wêreld leef nie.
Wanneer jy juis jou voete uit die kerk sit, moet jy gaan doen en gaan leef soos wat God se Woord ons vertel. Ja, dit help selfs nie om die Woord van God te lees en ongeroer daar weg te stap nie. Dan kon jy dit eintlik maar gelos het.
22Doen wat God vir jou sê. Daar wag ’n groot verrassing op jou as jy maar net daarna sit en luister en niks daaraan doen nie. Jy dink dalk jy is mooi godsdienstig, maar eintlik is jy besig om jouself lelik te kul.
Die vers kom gryp ’n mens so-effe teen die bors. Dit laat ’n mens mooi dink. Doen ons werklik soos God sê? Volg ek die instruksies soos wat dit in Sy Woord vir Sy kinders oorgedra word?
Moenie in ’n fools paradise lewe nie, sê die stopbordjie. Moet selfs nie kerk toe gaan en dink dit gaan jou ’n Christen maak nie. Gaan doen soos wat God se Woord sê ons moet maak en soos die jongmense sê: Man up!
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Hoe lyk jou lewe?
Lewe jy soos God se Woord sê?
Sien ander dit raak?
Gebed
Vader, die ene is dalk op my gemik. Daar is tye wat ek nie doen soos U Woord sê ek moet doen nie. Mag U my krag gee om te lewe soos U wil hê ek moet. In Jesus se Naam. Amen.