God se Woord in vandag se woorde

Gare van liefde


Hoor hoe mooi is dit: 2So wil ek hulle bemoedig. Hulle moet besef dat ons deur die drade van liefde aan mekaar vasgeweef is. Hulle het die geheim van God, naamlik Jesus, leer ken. Dit het hulle ryk laat voel. ’n Mens moet die vers ’n paar keer lees om alles wat daarin staan te verstaan.

Wanneer ek en jy ’n kind van God word, word ons met gare van liefde aan mekaar gebind. Dan is ons nie meer alleen nie. Ons het dan iemand wat vir ons rêrig lief is en vir wie ons kan lief wees. Ons kan vir mekaar omgee. Ons kan mekaar se hande vat en mekaar deur die lewe help. Ons kan sorg dat ons nie meer struikel en deur die grondstrate van die lewe ploeg nie.

In baie van ons se lewens is dié liefde egter nie sigbaar nie. Die hoofrede is dat ons dit eenvoudig nie so verstaan nie. Ons besef nie dat as ons ’n kind van God word, ons met gare van liefde aan al die ander kinders vasgeweef word nie.

Nou het ons egter nie meer ’n verskoning nie. Ons weet nou van die liefde wat tussen ons loop. Wanneer ons na ons medemens kyk, moet ons deur die bril van die liefde kyk. Jy sien, die bril werk soos ’n sonbril – dit laat net sekere strale deur. Die strale wat my gewoonlik irriteer van iemand, die swak gedrag en selfs die liefdeloosheid van ander kom nie deur die bril van liefde nie. Daarom is dit makliker om na ander uit te reik, want ons gee regtig vir mekaar om.

Die geheim van die liefde lê egter nie in die mens nie, maar in die liefdesgare. Die geheim van God is Jesus. Jesus is die liefdesgare wat die mense aan mekaar bind. Jesus is die magneet wat mense na mekaar toe trek.

Wanneer Jesus in twee mense is, trek hulle na mekaar toe. Hulle gee om vir mekaar en wil mekaar help. Tog is Jesus nie die voorvereiste vir liefde en omgee tussen twee mense nie. As Jesus in iemand is, word die persoon ook aangetrek na mense wat nie vir Jesus in hulle lewe het nie.

As ons realisties na die lewe om ons kyk, moet ons erken dat ons dit nie altyd regkry nie. Dit bly ’n stryd, soos Suna (skuilnaam) vertel:

Liefde is voorwaar nie maklik nie. Ek het bewus geraak van hoe jaloesie en selfgerigtheid hand-aan-hand loop met liefdeloosheid. Dit is die duwweltjies in mense se lewens wat veroorsaak dat ons nie God se groot liefdesgebod vir ons naaste ten volle kan uitleef nie.

Hierdie liefdeloosheid waarvan ek praat, gaan oor daardie groot liefde waar ek in staat moet wees om oor die doringdraad van woede en onvergifnis klim. Dit kos kruip, huil, aanspreek en bid om die moed van ons oortuiging te hê om dit te erken en te oorwin.

Dis ’n voltydse werk om vir mekaar lief te wees. Mag ons Jesus as garedraad gebruik om die liefde tussen mekaar sterker te laat blom. Mag ons kruip, huil, aanspreek en bid!

Skrifgedeelte

Kolossense 2:1-5

Om oor na te dink

Hoe verstaan jy die liefde tussen mense?

Is dit moontlik om werklik vir ander lief te wees?

Hoe kan jy Jesus se liefde aan ander uitleef?

Gebed

Vader, dankie dat U die geheim van die liefde, nl. Jesus aan ons openbaar het. Dankie dat Hy die liefde is wat ons aan mekaar bind en dat ons daarom nie meer alleen is nie. Help ons om die liefde tussen ons meer sigbaar te maak sodat dit ander ook sal aantrek. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek