Gebed is die enjinkamer
’n Ou het eendag gesê dat die kerk swak, donker, arm en onvolmaak is, omdat daar te min gebid word.
Dit is so waar. En so onverstaanbaar. As ek weet dat wanneer ek honger is en ek die yskas oopmaak, sal daar kos wees om my honger te stil, sal ek mos elke keer as ek honger is die yskas se deur oopmaak.
By die yskas kry ek alles. Dit stil my honger en gee my petrol om nog ’n paar ure voluit te hardloop. Hoe dom sal dit wees om te weet ek moet net die yskas se deur oopmaak, maar ek doen dit nie? Een of ander tyd sal my petrol opraak en sal ek eenvoudig net gaan staan.
Ek vermoed dieselfde kan gesê word van gebed. Ons bid te min. Ons bid te min vir mekaar. Ons bid te min dat God se wil in ons lewens ’n realiteit word. Ons bid te min, daarom is ons werke so kragteloos. Dis soos om die kragprop by die kragsok in te druk en nooit die skakelaar aan te skakel nie.
Dit klink eintlik nou lekker stupid, maar is dit nie presies wat met ons min gebede of geen gebede gebeur nie? Ek wonder of ons nog bid met ’n verwagting dat Iemand aan die ander kant hoor, wat nog te sê iets met die gebed doen?
Tannie Corrie ten Boom, ’n Nederlandse tannie wat saam met haar familie Joodse families in hulle huis vir die Nazi’s weggesteek het, het gesê dat gebed die enjinkamer van die gemeente is. As die enjin nie gesond is en teen sy volle spoed hol nie, gaan die wiele die een of ander tyd afkom.
In hoeveel kerke het die wiele nie al afgekom nie en staan die gebou leeg, sonder dat daar enige verskil in die wêreld gemaak word?
Die skrywer van Hebreërs ken gebed. Hy weet wat gebed kan maak, daarom dat hy die vrymoedigheid het om vir sy lesers te vra: 18Bid vir ons. Niks pla ons nie, want ons probeer ons bes om altyd die regte pad te loop. 19Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie.
Op ’n manier regverdig hy sy versoek deur te sê dat hulle gewete skoon is en dat hy daarom die reg het om vir gebed te vra. Maar ek wil so vêr gaan om te sê dat al sukkel ons om die pad reg te stap, kan en moet ons nog steeds op ons knieë gaan en met God gesels.
Dis juis hier in gebed waar ons uit die wêreld geneem word, waar ons rustig word en in tune kom met God. Dis hier waar ons anders word, om anders te lewe daar buite in die wêreld.
Mag ons nooit die krag van gebed vergeet nie. Mag ons nooit ophou bid vir mekaar, vir ons geliefdes, vir ons vriende en kollegas nie. Mag ons glo dat gebed ’n kragtige uitwerking het.
Mag ons onthou dat gebed ook die enjinkamer van ons lewe is en dat ons die enjin die heeltyd aan die gang moet hou. Glo en doen dit elke dag.
Teks
Hebreërs 13:17-21
Om oor na te dink
Bid jy?
Bid jy genoeg?
Hoe kan jy meer bid?
Gebed
Vader, ek moet bely dat ek nie genoeg bid nie. Ek moet bieg dat ek nie genoeg glo in die kragtige werking van gebed nie. Help my om meer te bid. Help my om te glo in die kragtige werking van gebed. In Jesus se Naam, amen.