Gebed is kragtig
Ons is aan die praat oor gebed, veral gebed van ’n gelowige.
Ek het penvriend in Johannesburg. Hy kom gewoonlik skiet-skiet die werf in. Skiet-skiet vir die Here se dinge. Die res is geraas.
Een oggend kom ‘n dame by my wat lank saam met ons gewerk het. Ek het geweet dat sy vreeslik lief was vir mans en het tans ook by een gebly. Onmiddellik vra sy my of sy met my privaat kan praat.
Ons was in ‘n oop kantoor met slegs afskortings tussen die lessenaars. Almal kon hoor as jy praat. Ek gaan vra toe my baas of ek sy kantoor kan leen vir so rukkie. Hy was gelukkig op pad na ‘n vergadering en die kantoor is leeg.
Sy vertel my toe van die moeilikheid wat sy het met die huidige dwelmverslaafde boyfriend. Hy het haar groot skade aangedoen. Hy het 2 dae tevore haar motor by ‘n “pandjieswinkel“ gaan swaai en met ‘n taxi huis toe gekom. Hy het ‘n diefstalsaak by die polisie gaan aangee.
Sy was moedeloos en raadop met die man en het seer en meer seer met my gedeel.
Ek het nie regtig raad gehad nie want hoe moes sy alles wat hy reeds aangevang het weer regkry?
Ek stel toe voor dat ons moet bid.
Tydens die gebed val dit in my gees dat sy van plan is om haar eie lewe te neem.
Na die amen, vra ek haar om haar handsak uit te pak. Alles behalwe wat vir dames aanvaarbaar sou wees. “Hoekom?” vra sy.
Ek vertel haar toe dat die Here tydens die gebed vir my gewys het dat sy haar eie lewe wil neem.
Trane loop oor haar wange terwyl sy die items een vir een op die tafel uitpak. Totdat sy by die .38 special rewolwer kom. Dit was vol gelaai. Ek stop haar toe en vra dat ons die wapen in die maatskappy se hoofkluis kan gaan toesluit.
Ek het haar gevra om daai selfde aand na ons kerk se byeenkoms te kom.
Daar het hulle ook saam met haar gebid en sy het haar lewe met die Here reg gemaak.
Ek sit vir ’n lank tyd stom en wonder by myself wat sou gebeur het as my vriend nie daar vir haar gebid het nie? Ek wonder wat sou met haar en haar rewolwer gebeur het as my vriend nie in gebed geglo het nie?
16 Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. (83 vertaling) Ja, vir seker! Dit red lewens!
Teks
Jakobus 5:13-20
Om oor na te dink
Bid jy?
Skrik jy soms as jou gebede beantwoord word?
Vir wie kan/moet jy (gedurig) bid?
Gebed
Vader, ja, ek glo in gebed. Al skrik ek soms vir gebede wat beantwoord word, weet ek dat U vandag nog hoor en ons gebede beantwoord, op U tyd. Amen.