God se Woord in vandag se woorde

Gebed om versterkings bymekaar te maak


(Ons hoor beter deur stories. Ons leer baie deur mekaar se stories. Wil jy nie jou storie vertel nie? Jou storie daar by die kruispaaie van die lewe. Geloofstories, hartstories, hulpstories, sukkelstories, wonderstories, worstelstories, krisisstories, God-stap-stories. Enige storie waar God jou daar by die kruispaaie van die lewe gehelp het. Dan plaas ons dit op ons Kruispad webtuistes. Dit kan dalk net vir iemand anders help om deur die kruispad te kom. Kliek hier om dit aanlyn te stuur of stuur ‘n e-pos na: stories@kruispad.com)

Ester vertel van ’n 7-jarige wat bid: “Here, wees met die mense wat minder bevoorreg is as ons en ook met die mense wat meer bevoorreg is as ons.”

Sjoe, watter groot insig kom nie van die jongeling nie? Almal het gebed nodig. Elke liewe persoon op aarde staan elke dag voor ’n klomp keuses en ons probleem is dat ons nie anderkant die bult kan sien hoe dit gaan uitwerk nie. Baie besluite se gevolge is dalk nie so ernstig nie en sommige besluite lyk dalk bloot onskuldig, maar die gevolge kan lewens verwoes.

’n Man of ’n vrou besluit om te naby aan ’n ander te beweeg. Gou smokkel die brullende leeu met hulle kop en net daar spartel die prooi hom vas en die roofdier staan nader.

Ek wonder of hulle dieselfde besluit sou geneem het as hulle voortdurend in gesprek met God was.

’n Besigheidseienaar worstel met ’n groot besigheidsbesluit. Dit kan sy besigheid tot nuwe hoogtes neem of dit kan dalk die oorsaak wees dat alles vou. Ouers moet besluit na watter skool hulle kind moet gaan, watter vakke geneem moet word, watter tegnikon of watter universiteit.

Kinders moet besluit oor hulle toekoms en waar hulle eendag wil wees. Besluite oor huweliksmaats en so kan ’n mens aangaan met klein en groot besluite wat ons gedurig moet neem. En as ek so terugkyk oor my eie lewe, besef ek dat ek op my eie nie opgewasse is om al die keuses van die lewe op my eie te neem nie. Ek sleep nog steeds swaar aan van die gevolge.

Ek het versterkings nodig. Ek het nodig dat ek in gesprek gaan daaroor. Ek moet elke dag by God uitkom om met Hom oor my hele lewe te praat. Daar is tye wanneer ek besluite neem in die hol van die lewe, waar ek nie stil kon word nie. Dit is in hierdie tye wanneer ek moet drink uit die tenk wat ek volgemaak het in die tye saam met God. Daar waar ek my afgesonder het in gebed, het ek tenke volgemaak om daar waar ek by die kruispaaie van die lewe besluite moes neem, die regte besluit te kon neem.

Naïef glo ek dat as dit nie vir my ma se gebede was nie, was ons 5 kinders lankal van die pad af. Ek glo dit met my hele hart. Ek glo in die krag van gebed. Ek glo dat wanneer ’n mens in gebed of anders gesê, in gesprek met God tree, word jy anders, leer jy meer van God, leer jy meer van jouself, leer jy meer van God se wil en maak dit jou loop deur die lewe soveel makliker.

Maar meer nog, ons moet vir mekaar bid. Ons moet ander kry om saam en vir ons te bid. Die lewe is nie maklik daar buite nie. Soms kom ons by plekke wat gevaarlik is. Dit is dan juis ander se gebede wat ’n mens daardeur dra.

Paulus weet dit. Hy ken die uitdagings van die lewe. Hy weet hoe die duiwel veral jong kinders van die Here aanval. Vandat hulle gehoor het van die jonge Christene, sê Paulus: 9… bid ons aanmekaar vir julle. Paulus weet uit ondervinding dat hulle dit nie op hulle eie sal kan maak nie, daarom kry hy versterkings in.

Uit ondervinding weet ek dat gebed werk en dat ek dikwels gekeer is om verkeerde besluite te neem. Gebed van my vriende om my, van my mentor en moeder, van my vrou en kinders en selfs van ’n vreemdeling wat oor my pad gestuur is.

Kom ons maak tyd om te bid, want in die proses raak ons anders en leer ons om reg te leef. En terwyl jy so met God aan die praat is, plaas ook jou geliefdes, kollegas, vriende en selfs die wie jy sukkel om te vergewe voor Hom neer. Bid aanmekaar vir mekaar.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:9-11

Om oor na te dink

Bid jy nog?

Bid jy vir ander?

Selfs vir die wie jy sukkel om te vergewe?

Gebed

Here, ek moet bieg: Ek bid te min en as ek bid, voel dit soos lysies wat ek deurwerk. Leer my om met U te gesels oor die keuses wat ek elke dag moet maak en help my om te luister. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek