God se Woord in vandag se woorde

Gebed – selfs op die gholfbaan


Efesiërs 6:10-20

Ek kan vandag getuig dat die Here gebede verhoor! Nie een maal nie, maar menige maal het ons die resultate gesien en aan ons lyf gevoel.

My vriendin se dogter het swanger geword en het vir haar eerste “scan” gegaan. Die dokters kon twee “sakkies” sien maar net een fetus. Hulle reken toe die tweede enetjie het nie ontwikkel nie. Twee weke later gaan hulle vir die tweede “scan” en jou waarlik daar is nou twee klein mensies op pad. Een basies twee weke “ouer” as die ander enetjie.

Hier in Desember is my vriendin se kleindogters toe gebore. Hulle was bietjie haastig want hulle moes eers middel Februarie hulle opwagting gemaak het. Die groter een van die tweetjies het so onder ’n kilo geweeg, haar sussie net 820 gram. Dit wou nie goed gaan met die klein poppie nie. Sy het afgeval na 735 gram. Ons het van die begin af met ’n gebedsaksie begin en kan nou getuig die Here het weereens geluister na die gebede van Sy kinders. Die groter enetjie is al ’n week by die huis en sus weeg al ’n hele kilo! Hoe groot is ons Vader se genade en liefde!

Gebed met geloof werk! Net nou en dan moet ons dalk onthou om dankie te sê ook!

En so kan ons hordes getuienisse gee van gebed wat werk. Getuienisse van ’n God wat luister en gebede verhoor. Paulus glo dit ook met sy hele hart: 19Bid asseblief vir my dat die Here vir my die regte woorde sal gee wanneer ek met mense oor Hom praat, sodat ek nie bang sal wees om vir mense van Jesus te vertel nie, al verstaan hulle nie altyd alles mooi nie.

Vir God kan ons enige iets vra. Ons moet vir mekaar bid, want dit werk. Ja, veral as ons bang is. Bang vir mense. Bang vir wat mense gaan doen met ons as ons oor ons God praat. Ons moet bid, selfs al lyk die omstandighede nie lekker nie en al is die nuus nie goed nie.

Selfs op die gholfbaan!

Frans was saam met my op skool – dis eintlik sy verhaal hierdie!

Na baie omswerwinge het Frans alles, ALLES, voor God gelê en rus gekry!

Hy en drie mans speel gholf. Al vier weet dat een van die mans reguit erken hy glo nie in God nie. Hy is ‘n ateïs.

Een Woensdagmiddag kom die ongelowige by die gholfbaan aan, redelik bek-af! Na verloop van die spel vind hulle ander uit dat sy dokter die oggend aan hom meegedeel het dat hy kanker het en die volgende dag moet gaan vir toetse en besluite oor wat die dokters te doen staan.

Met die aanhoor van hierdie nuus vra Frans of die ateïs sal omgee as hulle vir hom bid. Met sy toestemming vorm die drie mans ‘n kringetjie om die ateïs en net daar op die setperk bid hulle vir hom! Wat kon hy verloor?

Die Vrydag bel die ateïs vir Frans en sê hy weet nie of Frans se God vir hom geluister het nie, maar daar is géén teken van kanker by hom deur die spesialiste gevind nie. Nodeloos om te sê, Frans is dadelik na hom om saam met hom DANKIE te sê!

Waar die ateïs vandag is, weet ek nie, maar dat God bestaan? Definitief! Hy luister beslis vir ons!

Om oor na te dink

Glo jy in gebed?

Bid jy?

Bid jy vir ander?

Gebed

Ek bid te min, Here! Ek glo te min in gebed. Ek bid te min vir ander. Ek wil meer bid. Ek weet U luister na elke gebed. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek