God se Woord in vandag se woorde

Gedagtes in balans


Ons drink koffie onder die tent se dak. Die bos is mooi. Twee loeries jaag mekaar al in die rondte en ’n tortelduif voer danspassies uit om sy wyfie te beïndruk. Alles is rustig en in balans.

Vriende van ons kom maak ’n draai en saam drink ons nog koffie. Sy vertel van haar seun wat haar sommer net geblok het van WhatsApp. Ek hoor die traan in haar stem as sy oor haar verlore seun praat.

Sy weet nie eens hoekom hy nie met haar wil praat nie, maar vermoed dit was nadat hy eendag ná hulle tafelgebed ’n ligte storm opgesteek het. Hy kan nie verstaan hoekom sy ma en broer in Jesus glo nie. Hy maak in ieder geval al jare nie sy oë toe as hulle bid nie.

Van vroeg af het hy sy ore uitgeleen vir mense wat anders glo en anders doen. Selfs sommige wat glad nie glo nie en nog steeds anders doen.

Sy ma dink hy’s kwaad. Kwaad vir die lewe. Kwaad vir God. Sommer net kwaad.

Nou bel hy nie meer nie.

Ons moet ook versigtig wees om nie ons ore uit te leen aan die uitgesproke mense wat so braaf is om teen God en Jesus te rebelleer nie. So maklik word ’n mens deesdae beïnvloed en dalk kom jy ook in die versoeking om te dink hulle oortuiging klink beter. Dit maak meer sin en voor jy jou kom kry, is jy ook van die regte pad af. Dalk nie kwaad nie, maar nie meer op die regte bladsy nie.

Daarom die waarskuwing: 13Dink mooi oor al hierdie dinge na en moenie toelaat dat julle gedagtes deur allerhande ander dinge deurmekaargekrap word nie.

Na die tweede koppie koffie lui my foon. Dis my goeie tjommie wat nou net teruggekom het van ’n lekker toer. Ons gesels land en sand en vang op oor mekaar se doen en late en wat die kinders alles aanvang.

Ek is so bly om te hoor dat sy klong weer ’n meisie op die horison het. ’n Man is darem nie gemaak om alleen te wees nie.

My vriend sê dat hy en sy vrou klaar met hulle seun gepraat het oor hoe belangrik dit is dat hy en sy splinternuwe meisie op dieselfde bladsy moet wees oor hulle liefde vir hul Skepper. Indien dit op verskillende blaaie lê, gaan dit maar sukkel.

Dis waar. Die liefde kan maklik jou geloof steel. Stadig, maar seker, word elke bousteen uit jou geloofshuisie uitgewikkel, totdat daar net ’n ruïne staan. As die winde van die lewe dan opkom, raak ’n mens kwaad. Kwaad vir die lewe. Kwaad vir God. Sommer kwaad vir alles en almal.

Die 1983-vertaling sê ons moet verstandelik wakker en nugter wees. Hierdie is nie een of ander geestelike gedagte of geloof nie. Dis nie ’n emosionele gevoel nie. Nee, met jou verstand en jou gedagtes moet jy op die uitkyk wees vir enige iets wat jou geloof ’n knou wil gee.

Waak bewustelik met jou verstand teen iemand of iets anders wat jou geloof wil kom steel. Maak jou oë oop vir die rooi ligte en sorg dat jy stewig in jou geloof gegrond is. Sorg dat ook jou geloofslewe in balans is.

Teks
1 Petrus 1:13-16

Om oor na te dink
Wat is daar in jou lewe wat jou van stryk kan bring?
Wie is daar in jou lewe wat jou van stryk kan bring?
Waar moet jy op jou pasoppens wees?

Gebed
Vader, ek besef maar net weereens dat ek moet oppas dat ander my nie na verkeerde paaie lei nie. Help my asseblief om my oë oop te hou en seker te maak ek loop net agter U aan. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek