God se Woord in vandag se woorde

Geduldig gewag


Keer op keer maak God beloftes in die Bybel en dan word dit keer op keer waar. Die tydsverloop tussen die belofte en die waarmaak van die belofte, kan soms ’n baie lang tyd wees. Neem nou maar vir Abraham en Sara.

Hulle wou so graag ’n seun hê. Hulle wou so graag ’n nageslag hê. Maar die kans raak al hoe skraler hoe ouer ’n mens raak, natuurlik! Hulle was al in hul tagtigs toe hulle geweet het hulle sou nooit kinders hê nie. Toe maak hulle hul eie planne en Abraham verwek ’n seun deur hul slavin, Hagar.

Die plan was ongelukkig teenproduktief en die verhoudings in die Abraham se huishouding was op die koffie. Is dit nie gewoonlik die geval as ons mense probeer planne maak nie?

Abraham was al nege-en-negentig toe God via drie engele vir hom belowe dat hy ’n groot nageslag sal hê, wat natuurlik veronderstel dat hy sy eie bloedseun êrens vandaan moet kry. Ek wonder wat het deur Abraham se kop gegaan toe die engele weg is, nadat hulle die nuus gebreek het en hy sy ou vroutjie sien .

“Ja, Vader, ek wonder hoe U die ene uit die hoed gaan trek?” was seker een van die gedagtes wat deur sy kop gegaan het.

Tog vertel die Bybel ’n ander storie: 15Abraham het geduldig gewag tot God gedoen het wat Hy beloof het.

Dit lyk nie of Abraham sy speelgoed uit die kot uitgegooi het en vrae begin vra het oor “Hoe lank nog, Here?” nie. “Ek wag nou al op ’n jaar na ’n eeu. Is dit nie lank genoeg gewag nie?” Nog minder het Abraham in die realiteit vasgekyk en dit voor God neergesit. “Ag Vader, kom ons wees nou realisties. Ek en Sara is darem nou heeltemal aan die verkeerde kant van die biologiese klok …”

Nee, Abraham het een ding gedoen. Hy het geduldig gewag.

Sy geloof was groot genoeg. Hy het geweet waartoe sy God in staat was om te gaan. Hy het nie grense om God geplaas nie. Hy het nie God binne die vermoë van ’n mens probeer plaas nie. Hy het geweet dat by God enige iets moontlik is. Hy het geweet en geglo dat God die wette van die realiteit kan oorsteek om Sy belofte aan hom te hou.

Daarom het hy geduldig gewag. Al het hy die beste deel van ’n eeu al gewag.

God hou Sy woord. God hou Sy beloftes en sal enige iets, selfs die onmoontlike doen, om seker te maak dat Sy beloftes waar word.

God sal ook Sy beloftes aan jou waar maak. Al kos dit ’n wonderwerk. Al kos dit dat die onmoontlike moontlik gemaak moet word. Dit is wat God doen. Hy moet Sy beloftes aan jou waarmaak.

Jy moet net geduldig daarop wag. Ek weet dis moeilik, want ons wil dit mos al gister gehad het. Leer tog by Abraham en sit en wag. Al vat dit die beste tyd van ’n eeu. Hou net uit. Hou net aan. God sal vir jou deurkom!

Teks
Hebreërs 6:9-11

Om oor na te dink
Watter beloftes moet waar word in jou lewe?
Vertrou jy God sal dit waar maak?
Hoe moet jy wag?

Gebed
Vader, dankie vir al die beloftes in U Woord. Ek moet bieg dat ek hulle almal nie eens ken nie. Tog het ek nodig dat daar ’n klomp dinge in my lewe waar word. Help my met die ene, Here. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek