Geduldig in verdrukking
Die foto van ’n netjiese man in ’n netjiese sitkamer trek my aandag en ek begin die post van Mpho Lekalakala op LinkedIn lees:
In 2010 was ek ’n straatsmous in Marabastad, Pretoria. Ek het skoonmaakmiddels en Cool Time-yslollies verkwansel. Ek het by die Mabopane taxi rank, op bewegende treine, ja, oral het ek gesmous.
Ek het reeds my nasionale diploma in ouditkunde gehad, maar werk was skaars. Ek was honger. Daarom het ek gesmous om myself aan die lewe te hou.
By geleentheid het ek my universiteitsvriende raakgeloop, wat gelukkig was om reeds ’n werk te kon inpalm. Ek was bly vir hulle part, maar dit het my amper tot trane gedryf dat hulle my so moes sien.
Rol ’n paar jaar vorentoe en vandag het ek ’n suksesvolle besigheid. Ek is in staat om dinge te doen waarvoor ek lief is. Ek beheer my eie tyd. Ek is geseënd.
Soms sê God nee, omdat Hy weet jy verdien baie meer as wat jy in gedagte het.
Mpho sluit dan af met:
Romeine 12:12 “Wees bly in die hoop, wees geduldig in die verdrukking en bly volhard in gebed.”
Sjoe, hier is iemand wat die skewe balle wat die lewe na jou gooi, een vir een gepos het, totdat die regte tyd opgedaag het. Uit honger is hy gedryf om iets te doen wat nie eintlik pas by wat hy geswot het nie.
Vir seker moes dit hom skaam laat voel het, as hy sy klasmaats in hulle netjiese pakke gesien het. Heel waarskynlik het hy keer op keer vir God gevra, “Hoekom kan hulle dan al werk en ek nie?”
En vandag as hy terugkyk, sien hy die sin in die swaarkry. Hy verstaan nou dat hy eers deur die swaar moes sleep om te leer wat dit beteken om werklik op God te vertrou.
Hierdie swaar tye het hom geestelik volwasse gemaak en hy weet nou wie hy is, waarheen hy op pad is, wat sy roeping is en wat dit is om deur dik en dun aan God vas te klou.
Mpho het die volgende vers vir my ’n werklikheid laat word: 4Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.
Mag dit waar wees vir elkeen van ons. Mag ander eendag na ons storie kyk en sê hulle manier van die lewe leef, het my geleer om regtig op God te vertrou en op die ou end ook geestelik volwasse te raak.
Teks
Jakobus 1:1-8
Om oor na te dink
Hoe ervaar jy swaar?
Hoe ervaar jy God se hand in jou swaar?
Hoe kan jy rustig toelaat dat God met jou woel?
Gebed
Vader, swaar tye en ek is nie sulke goeie maats nie. Ek wil net daaruit breek. Help my om net eers ’n stukkie terug te staan en te kyk na U wil. Dan sal ek weet hoe om daaruit te leer. Ek weet dit. Maar dit bly nog nie lekker nie. In Jesus se Naam. Amen.