God se Woord in vandag se woorde

Gee is nie ’n issue nie


Ek weet nie hoekom is dit so nie, maar as mens ’n seer toon of vinger het, stamp jy dit mos gedurig. Of iemand vat per ongeluk aan die seer. Dan wil ’n mens deur die dak spring.

Ek vermoed dis dieselfde wanneer daar oor gee, geld en gawes gepraat word. Mense raak so maklik opgewerk wanneer daar oor hulle beursies en gawes wat in die Koninkryk gebruik moet word, gepraat word. Is dit omdat daar op ’n seertjie gedruk word? Ek vermoed as mense se gesindheid reg was en hulle hulle deel van hulle pond en gawes gegee het, dit nie nodig sou wees om daaroor te praat nie. Maar hierdie onderwerp is vir almal ’n leerkurwe, want dit is nie iets wat vanself kom nie. Inteendeel – ons hou meer vas as wat ons uitdeel.

Ok, so ons moet gee. Dit weet ons almal van kleins af. Hoeveel ons moet gee, is ’n sommetjie tussen jou en God. Jy moet self besluit hoeveel is 10% van jou inkomste. Jy moet self besluit of jou somme gemaak moet word op die geld wat jy in jou hand het of op jou bruto inkomste. Ek het eenkeer ’n baie goeie preek gehoor wat my gehelp het om my somme te maak: You cannot out-give God! En dit is so. Probeer dit ’n bietjie en kyk of jou somme aan die einde van die maand nog klop. Uit ondervinding het ek geleer ons God voorsien sodat ons in staat is om te kan gee.

Tog is dit belangrik dat ons met die regte gesindheid sal gee. Dit help nie ons gee met opgeblaasde wange nie. Dan kan jy dit maar los. Juis hieroor spreek Paulus die ouens van Korinte aan: 12Die belangrikste van alles is dat julle julle geld met die regte gesindheid sal gee. Dan maak julle God se hart sommer baie bly. 13Natuurlik vra God nie meer van julle as wat julle besit nie. Nee, dra net tot die fondsinsameling by uit die geld wat julle tot julle beskikking het. Julle hoef regtig nie elke sent op julle naam weg te gee nie.

Daar het jy dit nou. Hoekom nou ’n issue maak van iets wat eintlik vanself moet kom?

Ek bedank een van ons donateurs vir sy bydrae tot die bediening. Die groot Cheetah-ondersteuner antwoord:

Ek kry nou nie so ’n groot salaris nie, maar ek het ’n ander aftrekorder gestop en daarom kan ek dit vir julle gee en dit is vir my een groot plesier.

Sjoe, ek raak stil.

Nog iemand getuig oor haar ervaring van gee:

Dit was vir my baie moeilik om my volle tiende te betaal. Maar God het ’n manier (sonder dat jy dit besef) om saam met jou die pad te stap.  Vandag betaal ek baie meer as my tiende en ek voel dit nie eers nie.

Kom ons almal maak ’n punt daarvan om nie ’n issue te maak van die gee van ons tyd, geld en talente nie. Kom ons laat toe dat die Gees ons lei om te weet waar en wat ons moet gee. Kom ons gee met ’n oop hand en ’n lekker hart. Die wêreld sal ’n ander plek wees.

Teks

2 Korintiërs 8:7-15

Om oor na te dink

Waar kan jy gee?

Wat kan jy gee?

Wanneer kan jy gee?

Gebed

Here, dis nie altyd maklik om te gee nie. Daar is altyd nog ietsie wat ons nodig het of vir onsself moet of wil koop. Paulus se gesprek met die Korintiërs is aan ons geskryf. Help ons om dit op onsself van toepassing te maak en daaruit te leer. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek