God se Woord in vandag se woorde

Geen wette, geen rituele, geen riglyne, geen lysies van do’s en don’ts nie – Romeine 10:1-13


Kliek hier om die teks te lees: Romeine 10:1-13

geen wettie geen rituele

Om toegewyd te wees in jou godsdiens beteken nie noodwendig dat jy na die hemel toe gaan nie. Jy kan toegewyd die verkeerde dinge glo. Jy kan toegewyd pad af wees.

En dit is niks nuuts nie. Israel, die uitverkose volk van God, die volk waarmee God met wolke en vuurkolomme gepraat het, die volk vir wie God spesiaal sy wet op ’n bonatuurlike manier gegee het, het vasgevang geraak in sisteme en tradisies en goeters dat hulle nie eers hul God, Jahwe, se Seun op aarde herken het nie. Die duiwel het hulle so verstrengel laat raak in hulle eie geskepte godsdiens dat hulle nie God se verlossingsplan kon raaksien nie. En toe mis hulle die bus.

Die volk het geglo al manier wat jy in die hemel kan kom, is om te werk. Dit is seker die gevolg van die wet. Die wet werk so: dit wys jou op jou oortreding. Nou moet jy uithaal en wys deur ’n paar goeie dinge te doen om jou verhouding met God weer in plek te kry. Dit is wat die volk geg
lo het en hulle was opreg in wat hulle gedoen het.

Hulle was nie moegoes wat hulle godsdiens sommer net ligtelik beoefen het nie. Nee, hulle was passievol: 2… die Israeliete is baie toegewyd in hulle godsdiens. Maar op die ou end help dit hulle niks nie. Want hulle het verskriklik baie ywer, maar hulle sit gestrand sonder die regte kennis van God en toe probeer hulle hul eie ding doen. En as dit nie van God kom nie, het die duiwel mos ’n vinger in die pastei. Let op: die ouens het regtig erns met hul godsdiens gemaak. Hulle het regtig probeer, maar ongelukkig die pot heeltemal mis gesit. Hierdie rigting was nou die rigting van die wet en die werke. Dit was nie die rigting van God nie!

Dit is so kardinaal dat ons die regte kennis van God moet hê. Ons moet verstaan dat God alles vir ons kom doen het. Hy het dit vir ons maklik gemaak. Vir sommige so maklik dat hulle dink dit is ’n scam. Ai, hoe eenvoudig kan die mens nie wees nie? Hoekom is dinge wat maklik is, wat verniet is, eenvoudig te goedkoop om waar te wees? Was dit die rede hoekom die volk van God vir Jesus misgekyk het? Ai, ai, ai.

Hier is iets wat jy nooit ooit moet vergeet nie: 4… Elkeen wat in Hom glo, word deur God vrygespreek sonder dat hulle dit verdien.

Natuurlik moet ons ook ons sondes bely – dit weet ons, maar dan hoef ons net te glo, net vas te hou aan die wete dat God getrou en regverdig is om ons van al ons sondes te vergewe. Dis al. Geen wette, geen rituele, geen riglyne, geen lysies van do’s en don’ts. Nee, glo en jy word van al jou sondes vrygespreek.

Wat my verstand te bowe gaan, is huwelike wat uitmekaar geskeur word, kinders wat sonder ’n pa of ’n ma moet grootword omdat een van die ouers sogenaamd nie die wette van die ander een se geloof slaafs nagevolg het nie. Nou kies die een party vir die kerk maar teen die huwelik. Ek dink nie dis God se idee nie. Ek dink nie Jesus sou ge-cover het vir reëls en regulasies ten koste van die huwelik nie. Hy sou ’n ander plan gemaak het.

Ons moet keer op keer onsself onder ’n vergrootglas sit. Ons moet seker maak dat ons reëls en regulasies nie ’n wig inbring tussen ons en God nie. Dat ons nie soos die Israeliete religiously vashou aan goeters wat totaal en al die bal mis slaan nie. Jy hoef nie te werk om in die hemel te kom nie. Daardie werk is klaar gedoen. Die werke wat jy doen is uit dankbaarheid en nie ’n plig nie.

Leef nou uit dankbaarheid ’n lewe waar ander jou dankbaarheid vir die genade wat jy van God ontvang het kan raaksien in hoe jy die lewe stap.

Om oor na te dink

Waar is jy?

Waarheen is jy op pad?

Moet jy, waar jy by die kruispad staan, dalk ’n paar ander keuses maak?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek