Geloof om voor te sterf
Die briewe wat Paulus aan die gemeentes gestuur het, het hy nie self geskryf nie. Hy het dit gedikteer en Tertius het dit neergeskryf. Die rede hiervoor was waarskynlik Paulus se swak handskrif.
Wanneer hy die brief klaar geskryf het, het Paulus dit gewoonlik persoonlik onderteken, maar met die afsluiting van die brief aan die Galasiërs was dit anders. Hy was so bang dat die jong Christene nie die moed sou hê om vas te byt in hulle geloof in die opgestane Jesus nie. Hy was bang dat hulle eerder die makliker weg sou kies deur te glo in die besnydenis en so vervolging sou vryspring.
Dit was nie maklike omstandighede waarin die mense geleef het nie. In daardie tyd is mense links en regs afgemaai as hulle nie gedoen en geglo het soos die regering en die kerk gesê het nie. Baie volgelinge van Jesus het presies dieselfde paadjie as hy gestap. Vir die jong Christene was dit bitter moeilik om op te staan teen die besnydenis, want hiermee saam plaas hulle hulle lewe in groot gevaar. Sommige was nie bereid om so ver te gaan nie.
Ek wonder of ek bereid sou wees om so ver te gaan?
Daarom die persoonlike pleidooi van Paulus om self die pen te gryp: 11Hier teen die einde van my brief het ek dit goedgedink om self die laaste paar woorde aan julle te skryf. Tot dusver het my sekretaris alles neergeskryf. Maar nou skryf ek self. Julle kan dit sien aan die groot letters wat ek maak. 12Daardie mense in die gemeente wat vir julle sê om besny te word, doen dit net om ander te beïndruk. Op dié manier soek hulle ’n maklike uitweg sodat hulle nie vervolg word nie. Hulle is nie bereid om die lyding te verduur wat hand aan hand gaan met die regte verkondiging van die kruis van Christus nie.
Die pleidooi van Paulus vir die mense om sterk te staan, om op te staan vir dit waarin hulle glo, noop my om self na my eie geloof te kyk. Dis ’n eenvoudige vraag: Is ek bereid om op te staan vir my geloof of vat ek eerder die maklikste pad?
Dit laat dink my aan die storie van die klompie manne wat met masjiengewere by die kerk tydens ’n Sondagoggenddiens ingestorm het. Hulle het aan die gemeente geskree dat hulle almal gaan doodskiet wat in God glo. Die ander kan opstaan en uitgaan. Hulle lewens sal gespaar word.
’n Groot aantal mense het opgestaan en uitgestorm. Die mense wat oorgebly het, is opgekommandeer om voor die kansel op hulle knieë te gaan staan. Met gewere teen hulle koppe is daar weer gesê dat die wat in God glo, geskiet gaan word. Die ander kan opstaan en uitgaan. Nog ’n paar van die mense het opgestaan en uitgestorm.
Toe die laastes klaar is, draai een van die manne met die geweer in die hand na die predikant en sê: Goed, dominee, hier is die ware kinders van God. Jy kan nou maar aangaan met jou preek.
Sjoe, ek wonder of ek een van die sou wees wat die boodskap daardie Sondag sou hoor?
Ons moenie toelaat dat ons geloof in die opgestane Jesus gesteel word nie. Ons moenie toelaat dat tradisies of stories oor geloof ons geloof in die opgestane Jesus steel nie.
Ons moet bereid wees om self te sterf vir ons geloof. Mag ons seker maak dat ons nie agter ander mense se stories oor geloof aanloop nie. Laat ons bly glo in Jesus se kruisdood en dat dit genoeg is vir ons om gered te word.
Teks
Om oor na te dink
Volg jy tradisies of volg jy vir Jesus?
Is jy bereid om aan jouself te sterf soos Jesus?
Wat beteken die kruisdood vir jou?
Gebed
Jesus, dankie dat my geloof in U kruisiging en opstanding my vrygemaak het van die skuldlas wat die sonde oor my gebring het. My dankbare hart dring my om gehoorsaam te wees aan U wil vir my lewe wat U met soveel liefde in U woord aan my bekend maak. Amen