God se Woord in vandag se woorde

Geloof op ’n stok


Die mense van Kolosse se geloof was iets besonders. Selfs vir Paulus was hulle geloof ’n voorbeeld: 5… Ek is net so bly daaroor dat julle nie ’n duim toegee nie, maar rotsvas bly staan wanneer dit kom by wat julle oor Jesus glo.

Al gaan dit nie rooskleurig by hulle nie, al is hulle vêr in die minderheid en word hulle soms vervolg net omdat hulle in Jesus glo, draai hulle nie hulle rug op Jesus nie. Niks waardeur hulle gaan, sal hulle geloof in God steel nie.

Maar wat doen ons? Dalk moet sommige van ons ons koppe in skaamte laat sak, want soms gebeur daar net iets en ons sukkel. So maklik struikel die voete van ons geloof. Wanneer die land se chaos aan ons deur klop, wanneer siekte sy opwagting maak, wanneer finansies druk, sukkel ons geloof.

Kan jy dalk hiermee identifiseer?

Ek leer so baie by Anna:

Twee jaar en vier maande gelede was ek met kanker gediagnoseer. Ek het chemo gehad en was skoon.

Verlede week het hulle gesê dat die kanker terug is in my lewer.

Al waarvoor ek gebid het, was vrede en glo my, ek het dit gekry. Ek’s rustig oor als wat voorlê, die komende operasie en dan weer die chemo.

Hy bly my pottebakker en sy klei is sterk en met soveel liefde gemaak dat al val ek, Hy my stukkie vir stukkie só sal herstel dat ek volkome sal genees en nog mooier as voorheen sal wees, want sien, Hy maak geen foute nie.

Ek weier om in ’n hoekie te gaan sit en myself jammer te kry, want daar is soveel om voor te lewe!

Ek glo!

Net soos die mense van Kolosse kon niks Anna se geloof steel nie.

Baie keer is ons manier van lewe egter soos die storie wat vertel word in die Apokriewe boeke van Petrus:

Ná Pinkster word Jesus se volgelinge erg vervolg. Petrus smee planne om uit die stad te vlug vir sy eie veiligheid. Sluip-sluip loop hy hom onverwags teen Jesus vas wat met die kruis op sy skouer loop. Verdwaas vra hy: Here, wat dan nou? U het dan opgevaar? En Jesus sê: Ja Petrus, maar dit lyk nie asof jy glo nie. Nou moet ek weer gekruisig word vir jou …

Ja, elke keer as ons ons geloof aan ’n stok ophang, is dit asof Jesus wéér moet sterf aan die kruis.

Dis nie nodig vir Jesus om keer op keer te sterf nie. Een keer was genoeg. Glo dit. Leef dit en maak seker dat jou geloof staande bly, al is die krisis hoe groot!

Teks

Kolossense 2:2-5

Om oor na te dink

Duik jou geloof soms in die hek?

Wat kan jy anders doen sodat jou geloof staande bly?

Gebed

Jesus, dankie vir wat U vir ons gedoen het. Ek is so jammer dat my geloof so gereeld wankel, veral as die golwe so bietjie hoog is. Help my dat my geloof onwrikbaar sal staan. Amen.

 

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek