Gelowig bid
Ek kry hierdie ontsettende mooi storie van Theo:
In die begin van 1971 verloor my pa die plaas en alles. Hy kry ’n werk by Sasol in Sasolburg en ons trek toe vanaf Jacobsdal na Sasolburg. Dit was ’n splinternuwe huis, met geen tuin en hoë mure rondom die erf nie.
Na drie maande wat ons daar gebly het, kom die balju nog weer ’n keer en skryf nog goed op wat oor was. Ek en boetie het ons fietse by die maatjie langsaan weggesteek.
Agter ons het mense gebly wat baie luidrugtig en rof was en my ma het nie baie van die raserige buurvrou gehou nie.
Ons was vyf kinders; drie susters, ek en my broer, waarvan ek die jongste van almal is. Op ’n dag is my Ma in trane, want sy weet nie wat om die dag vir haar kinders te gee om te eet nie.
Ons krap in al wat ’n kas is, en kry 9c vir ‘n bruinbrood. Ons kon nie ’n witbrood bekostig nie, want dit was 11c.
My ma stuur my winkel toe om die 9c bruinbrood te gaan koop. In daardie tyd het fietse ’n carrier agterop gehad. Dit was juis hier in die carrier waar ek die 9c bruinbrood gesit het, maar toe ek by die huis kom, was die brood skoonveld.
Ek jaag terug, maar ek kry niks nie. Dis weg! Wat kan die 8-jarige nou doen? My ma was stukkend! Wat gaan sy vanaand vir haar kinders gee om te eet?
Ek het haar in die kamer hoor bid, maar ek was teen die grond.
Die volgende oomblik gil die buurvrou van agter. My ma vra nog wat wil sy nou weer hê, maar gaan darem uit na haar.
“Hallo Tannie! Tannie kom mos van die plaas af. Ek het twee brode gebak. Ek wil hê tannie moet my sê hoe dit proe …”
Min het daardie vrou geweet dat dit ons enigste kos vir die dag was.
Ons dien ’n groot God! O ja, na 52 jaar sal ek nog steeds daardie vrou se stem tussen duisende herken …
Daar in die kamer, waar Theo se ma gekniel het, het 6… sy gelowig gebid en nie twyfel nie (1983-vertaling). Daar was nie ’n ander opsie nie. Sy moes eenvoudig net bid en glo en vertrou dat God sal voorsien.
En Hy het. Dis soos wat Hy belowe. Vra en julle sal ontvang. Ons moet nou net ons kant van die ooreenkoms nakom en gaan dien en glo en weet, God sal dit vir ons waar maak.
Teks
Jakobus 1:1-8
Om oor na te dink
Bid jy gelowig?
Waar lê jou fokus as jy bid?
Sluip twyfel soms êrens in?
Gebed
Vader, ek besef ek het nog so baie om te leer. Ek bid baie keer met min geloof en dan laat die onsekerhede my twyfel. Ek wil so graag alles net oorgee en bly vertrou. Amen.