God se Woord in vandag se woorde

Geluk sit nie saam met konkel in die donker       


Efesiërs  5:6-18

’n Vriend van my is pal ongelukkig. Die een ongeluk na die ander ry hom. Hy het al amper alles verloor. Alhoewel hy finansieel goed daarna uitsien, is hy baie eensaam. Sy pelle hang om hom, maar as hulle weg is, is hy hier diep binne hom alleen. Hy kom sit by my en die trane sit vlak. Hy ken nie eintlik geluk nie: “Ek voel leeg. Êrens is daar iets weg in my. Ek wonder hoekom ek op die aarde is”.

Ek weet wat my vriend se probleem is, maar ek was nog te bang om dit vir hom te sê. Op ’n manier kry ek die guts en sê vir hom dat ek nie dink die manier waarop hy dinge doen is altyd reg nie. Ek sien die kwaadgeit in hom opstoot, maar ek druk deur. Ek vra hom of hy bereid is dat ek en sy ma en sy vrou elke oomblik van die dag saam met hom stap. Daar waar hy by sy vriende is? Daar waar hy sy groot deals doen? Daar waar hy in sy kar ry?

Hy kom sit darem weer en besef ek wil hom help.

Ek moet die nuus aan hom breek. Die dinge wat hy soms doen, is nie dinge wat in die lig is nie. Soms is dit in die pikdonker. As die dade aan die lig kom, is daar perde.

My vriend weet wat goed en sleg is. Hy weet wat is reg en verkeerd. Hy weet wat is dade wat almal in die lig kan sien. Hy weet oor watter dinge hy eintlik nie wil praat nie en wat hy verkieslik weghou van almal naby hom en verkieslik ook van God.

“Dink jy God sien dit nie?” wonder ek hardop op. Ek is bang hy klap my en hou sy hande dop en toe hy niks maak nie, is ek braaf en vra hom reguit: “Dink jy God kan jou seën as jy soms in die donker konkel. Geluk sit nie saam met konkel in die donker nie!”

Ai, partykeer smokkel ons met ons eie kop en ons besef nie hoekom ons so ongelukkig is nie. Die dade wat ons aanvang het vir ons reg geword. Maar is dit?

Die reël is baie eenvoudig: 11Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is.

Wees op jou hoede vir ’n gekonkel in die donker. Moenie dat jy stadig in dinge ingekatrol word waar die lig al hoe minder word nie. Doen jou lewe bo die tafel en keer dat dinge onder die tafel verwissel word. Doen alles in die openbaar.

As ’n vreemde voorwerp soos ’n splinter jou liggaam binnedring, sal die liggaam self die splinter laat sweer en uit jou liggaam druk. Net so kom die dade van die donker een of ander tyd na die oppervlak. Kyk maar na die korrupsie in ons land.

Daarom die waarskuwing: 12Die dinge wat die ongehoorsame mense so in die donker aanvang, is so vieslik dat ek dit nie eens hier wil noem nie. 13As die lig van Jesus egter daarop val, sal almal kan sien hoe sleg hierdie dinge werklik is. 14In die lig kan ’n mens mos niks wegsteek nie en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien.

Dis eenvoudig. Maak seker dat jy die heeltyd in die lig lewe. Maak seker dat jy orals waar jy gaan jou eggenoot, jou vriend, jou ma en self Jesus sal saamvat. As jy nie skaam is nie, sal jy mos nie omgee as Jesus se lig daarop skyn nie, nè?

Om oor na te dink

Is daar plekke in jou lewe waar die lig nie altyd skyn nie?

Sal jy jou boeke vir almal kan oopgooi?

Waar moet jy anders lewe?

Gebed

Here, ek weet wat reg en verkeerd is. Ek weet waar die lig skyn en waar dit nie skyn nie. Ek vra U, Here, om met U Gees my hand te neem en my te help om nie in die donker te loop nie. Amen

Kruispad.com Namibië toer 2016

Datum Tyd Dorp Plek
Dinsdag 7 Junie 19h00 Mariental NG Kerk
Woensdag 8 Junie 19h00 Maltahöhe NG Kerk
Donderdag 9 Junie 19h00 Stampriet Privaat skool Elnatan
Sondag 12 Junie 19h00 Aranos NG Kerk
Maandag 13 Junie 19h00 Rehoboth Congregational Kerk
Dinsdag 14 Junie 19h00 Swakopmund AGS Filadelfia
Woensdag 15 Junie 19h00 Walvisbaai Gemeenskapskerk
Donderdag 16 Junie 19h00 Okahandja AGS Corpis Christi
Vrydag 17 Junie 19h00 Windhoek Gimnasium Skoolsaal

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek