Genade vir die grensbreker
Baie mense is gemaak om ordentlik te wees. Dis asof hulle nooit iets verkeerd doen nie. Hulle hare lê altyd net perfek. Dis regtig aangename mense en sal nie ’n vlieg skade aandoen nie.
Ek wens ek kon so gewees het, want ek is meer van ’n grens-toetser. En dis nie dat ek daarvoor soek nie. As ek weer sien, lê ek pens en pootjies aan die ander kant van die draad en sit ek met ’n sak vol gevolge.
Baie keer voel ek dan sleg. Ek haal sommer die lat uit en slaan myself. My selfbeeld duik in die hek en ek weet nie eintlik hoe om weer terug aan die ander kant van die grens te kom nie. Ek is skaam vir my dade en bang iemand sien my daar aan die ander kant raak.
Ek wonder of daar ander is wat ook soms so oor die grense val.
Gelukkig is daar baie goeie nuus vir ons sondaars: 12Ek sal al die dinge oorsien wat hulle verkeerd gedoen het en hulle foute sal My nie meer pla nie.” Dis die almagtige God wat hier praat.
Vir seker is dit die beste nuus wat ’n grensbreker en ’n sondaar ooit kan hoor, want dis asof God ’n blinde oog gooi. Nee, dit is eintlik soveel meer as dit. Die 1983-vertaling help ons hiermee: 12Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”
Dit is net genade. God se genade is so groot, dat Hy nie meer ons verkeerde dade deel maak van die som of ons eendag by Sy huis kan instap nie. Dit hang nie meer van my af nie. Ek hoef nie eers meer ’n dier in my plek te laat sterf vir die hoop verkeerde dinge wat ek aan die ander kant van die grense aangevang het nie.
Dit alles is reggekry deur die nuwe verbond wat God op die tafel kom neersit het. Die ou ooreenkoms het nie lekker gewerk nie. Priesters, wat ook maar mense was, mense met sondes, het ’n groot rol gespeel.
Met die nuwe ooreenkoms het God die deel wat die mens doen, omtrent heeltemal uitgehaal en Jesus het die rol oorgeneem. Hy het Homself as offer kom gee vir die sondes wat ons aanvang. Die offer was so groot dat dit genoeg is vir elke liewe grensbreker. Ook vir jou sondes.
Wanneer ek besef wat God vir my doen, dat Hy die dinge oorsien wat ek verkeerd doen, motiveer dit my om weg te bly van die grense. Nou wil ek nie meer druk en druk aan die grense nie. Ek wil uit dankbaarheid lewe, sodat God nie Sy kop hoef weg te draai vir die dinge wat ek aanvang nie.
Kom ons vat hande en probeer so lewe dat God die heeltyd na ons kyk en tevrede is met ons lewe. Kom ons help ander om ook so te lewe en neem hulle hand en lei hulle weg van die grense. So sal ons saam aangenaam vir God wees en lekker om na te kyk.
Teks
Hebreërs 8:7-13
Om oor na te dink
Val jy ook soms oor die grense?
Wat kan jy doen om dit minder te doen?
Hoe kan jy ander help?
Gebed
Vader, dit is vir my sulke goeie nuus dat U my sondes my nie toereken nie. Dankie dat ek beter kan voel oor myself. Dankie vir die hoop genade. Nou wil ek meer doen soos U wil hê ek moet doen. Help my tog daarmee! In Jesus se Naam, amen.