Genoeg geskenke vir ander
In die ou vertaling word vers 7 soos volg vertaal: Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Ons almal het nie net verskillende gawes ontvang nie, maar ook in verskillende hoeveelhede. En omdat ons mos nou maar mens is, het daar al baie bakleiery gekom oor die hoeveelhede en gou staan ons wange bol, want hy of sy het meer gekry as ek.
Tog moet ons nie te gou meer wil hê nie, want onthou, dan sal daar aan die einde ook meer van ons verwag word. Wees daarom eerder dankbaar vir die gawes wat jy gekry het en lê eerder meer klem op wat jy met jou gawes doen.
Ek dink nou aan die verhaal wat Jesus vertel het van die man wat vir drie van sy werkers ’n sakkie geld gegee het om mee te woeker. Twee van die werkers het mooi daarmee gewoeker, maar die derde een was lui en het die geld in die grond gaan wegsteek. Die eienaar was boos toe hy sien dat hy niks met die geld gedoen het nie en hom soos ’n sleg hond weggejaag.
Daarom is die vraag nie: Hoeveel het ek meer of minder as die ou langs my ontvang nie? Daai vraag soek vir baklei en nie antwoorde nie. Die vraag is eerder: Hoe kan ek met die gawes wat ek ontvang het, woeker sodat dit vrugte afwerp?
Ek besef ook dat wanneer ek die vraag vra oor die hoeveelheid gawes wat ek in vergelyking met my medemens ontvang het, staan ek in die middel. Dit gaan oor EK en MY gawes en dit is presies die teenoorgestelde van God se idee met gawes. God se idee met die gawes is dat die medemens in die middel staan. Gawes word aan ons gegee ter wille van ons medemens.
Die geskenk of talent wat ek gekry het, is daar om dit makliker te maak vir die mense om my. As ek die gawe het van evangelisasie, is dit om die Woord te gaan bring vir ander mense wat nog nie die Here ken nie. As ek die gawe het van bemoediging, is dit om ander uit die swart gat te trek. Wanneer ek die gawe het van barmhartigheid, is dit om ander se nood te verlig.
Hier word ons weer ’n bietjie wakker geskud. Ons moet besef dat ons elkeen iets gekry het, ’n spesiale geskenk, ’n talent, wat ons sal moet afstof en aan die werk kry. Ja, dalk is myne nie so groot of baie soos die persoon langs my s’n nie, maar dit maak my nie minder werd nie. Inteendeel, God weet presies hoekom Hy vir my soveel talente gegee het.
Dit is nou my verantwoordelikheid om die perde los te laat en te sorg dat my talente iets doen en resultate het. En nee, dit gaan nie oor myself nie. Dit gaan nie oor wat ek uit die deal kan kry nie, maar eerder hoeveel ander daarby kan baat. Ander se nood moet eerste deur my gawes en talente verlig word.
God weet dat daar mense is wat nou nie op hulle eie die mas kan opkom nie. Daarom het Hy vir jou en my toegerus met spesiale skills om ander te help. Tog, as ek om my kyk sien ek baie mense wat ongehelp in die strate lê. Seker omdat die een wonder hoekom die ander meer het. Seker omdat die een nog nie uitgevind het dat dit eintlik nie oor hom of haar gaan nie, maar eerder oor die ander.
Mag ons tog nie deel wees van dié groep nie. Mag ons ons gawes ontdek en mag ons dit alles oor ander uitgiet.
Teks:
Om oor na te dink
Wat is jou gawe?
Vir wie is dit?
Waar kan jy dit gaan uitgiet?
Gebed
Jesus Christus, U het in U alwysheid besluit vir wie U watter gawes wil gee. Ek vertrou dat U die beste weet en daarom aanvaar ek dit wat ek van U ontvang het. Stuur my na plekke waar ek ander kan bedien met die gawes wat ek van U ontvang het. Amen