Geseglik … Wat?
Ons almal wil soos Salomo wees, dis nou om in alle omstandighede met groot wysheid op te tree. Toe die twee vrouens baklei het oor wie se baba dit is, maak hy ’n plan wat sommige seker sou gesê het eintlik dom is.
Hoe kan ’n mens ’n voorstel maak dat ’n kind in twee gesny moet word? Ja, die voorstel lyk nie te vars nie, maar die wysheid kom in waar jy weet die werklike moeder sal eerder die kind oorgee as laat doodmaak, nè?
Hierdie wysheid kom nie sommerso by die agterdeur ingeloop nie. As jy dit nie soos Salomo in een pakkie van God ontvang het nie, moet jy hierdie voorstelle van Jakobus een vir een deel maak van jou lewe.
Jy moet sorg dat jy nooit dinge met bybedoelings doen nie. Jy moet orals vrede najaag. Jy moet altyd vriendelik wees, al skop iemand jou in die tande – nie ’n maklike ene nie! En dan moet jy geseglik wees.
Dis die eerste keer dat ek die woord hoor. Ja, die Griekse woord wat die 1933-vertaling met geseglik vertaal, kom nêrens anders in die Bybel voor nie en juis daarom moet ons ’n rits woorde gebruik om by die volle betekenis uit te kom.
Die 1983-vertaling gebruik die woord “bedagsaam”. Dis iemand wie se oë oop is vir die mense rondom hom en wat nie net op homself gefokus is nie. Só ’n persoon is eintlik op soek na plekke waar hy waarde kan toevoeg, al moet hy eers so ’n stukkie van homself gaan stoor om plek te maak vir nuwe insigte.
Iemand wat wys is, kan maklik oorreed word. Maar dis nie iemand wat soos die wind heen en weer gewaai word nie. Nee, so ’n persoon is nie bang om vir die waarheid, die regte dinge, van posisie te verander nie.
Baie keer is ons so in ons eie waardes en dinge waarin ons glo, vasgegiet, dat daar nie ruimte is om oortuig te word van iets wat nader aan die waarheid is nie. Mense wat wys is, neem hulleself nie te ernstig op nie en erken dat hulle nie altyd alles weet nie.
Tot ’n groot mate is wyse mense leerbaar en wil graag meer weet. Hulle is aanpasbaar en sal graag van posisie wil verander, omdat hulle weet hulle het nie alles in pag nie. Net om so ander te help.
Paulus is hierin vir ons ’n groot voorbeeld. Wanneer hy met die Jode gewerk en gepraat het, het hy soos ’n Jood geword. Wanneer hy met die arm mense gewerk het, het hy in hulle wêreld ingeklim. Alles ter wille van die Koninkryk van God.
Laat ons ook oop wees om nader aan die waarheid te stap. Laat ons aanpas en ruimte hê vir ander wat dalk anders is en dink en doen. Kom ons wees bedagsaam en offer soms ons eie gerief op ter wille van ander!
17 Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam …
Teks
Jakobus 3:13-18
Om oor na te dink
Waar is jou fondasies te vas?
Waar moet jy ruimte maak vir verandering?
Na wie toe moet jy uitreik, soos hulle raak om te help?
Gebed
Here, dis nie maklik om gerief op te gee nie. Eintlik wil ek net bly waar ek is en nie my gemaksone verlaat nie. Help my om meer plooibaar te wees en ruimte te maak vir ander. In Jesus se Naam. Amen.