Geskenke om uit te deel – Romeine 12:1-8
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 12:1-8
’n Dame vertel dat sy eendag haar ma by die werk aflaai. Haar ma is nie lekker nie. Sy is gespanne en weet nie hoe sy deur die dag gaan kom nie. Haar ma was egter nie lank by die werk nie, toe ’n kliënt, nadat hy reeds in sy bakkie was, eers weer stop, uitklim en na haar teruggestap kom. Sonder om te blik of te bloos, sonder dat hy weet wat haar omstandighede was, vra hy of hy vir haar kan bid. Sy stem in. Hy vat haar hande en bid: “Here bring U vandag die vrede en die seën. Amen” en daar draai hy om, klim in sy bakkie en ry weg.
Ek vermoed die tannie se mond het redelik wyd oopgehang.
Hierdie man in bakkie was getrou. Hy het sy gawe, om vir ander in te tree, gebruik waar mense dit so nodig gehad het. As die ou van die bakkie dit nie gedoen het nie, moes die tannie met ’n swaar stuk gespanne bagasie deur die dag sleep en God wou haar help.
Ek wonder hoeveel mense sleep swaar omdat ons kinders van God nie ons gawes in werking stel nie?
Weet jy dat God vir elke kind van Hom ’n spesiale geskenk gee? Geskenke wat Hy via sy kinders aan ander wil uitdeel. God wil die heeltyd geskenke uitdeel, geskenke waar nood ligter word, geskenke waar verhoudings gesond gemaak word, geskende waar die lewe net beter word. Hiervoor gebruik Hy die gawes wat Hy vir sy kinders gee.
Weet jy wat jou gawe is?
Ek raak yskoud as ek dink aan die kere waar ek verby kanse gestap het om God se geskenke uit te deel. Hoeveel anders sou die wêreld nie gewees het as ons net ons gawes gebruik en ’n verskil gemaak het nie?
Elkeen het ’n spesiale geskenk of gawe van God ontvang. Party het ’n paar gekry. Kyk hoe mooi verduidelik Paulus dit aan die Romeine: 4Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. 5Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. 6Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het.
Om te sê ek weet nie wat my gawe is nie, is nie ’n verskoning nie. Daar is mense wat sonder geskenke sit, omdat ons nie ons gawes erken en uitdeel nie. Die kerk as die liggaam van Christus lyk nie lekker nie, want die hoof hoof nie, die arm arm nie en die been been nie. Ek weet dit klink nie lekker nie, maar sien jy die prentjie saam met my van die liggaam van Christus wat nie hul gawes uitleef nie?
As jy nie weet wat jou gawe is nie, stel ek voor dat jy moeite maak om uit te vind wat dit is. Gaan soek die verse in die Bybel wat oor gawes gaan en kyk of daar nie iets is wat vir jou uitspring nie. Vra vir ander wat hulle dink jou gawe is. Doen ’n kursus. Gaan google dit of vra eenvoudig vir jouself wat is vir jou lekker om te doen? Waarvan hou jy baie wat vir ander ook kan help? Waar kan jy ’n verskil maak? Daar waar jy energie kry.
Die wêreld sal regtig anders wees as ek en jy en al ons ander Christen maatjies net ons gawes daar waar ons werk, woon en speel sal gaan uitdeel. Dalk het ons nou genoeg gepraat en moet ons iets begin doen. Hoe lyk dit? Is jy in? Soos die man wat eers weer uit sy bakkie geklim het en vir die tannie God se geskenk van vrede kom gee het net deur ’n kort eenvoudige gebed.
Om oor na te dink
Wat is jou gawe?
Baat ander daarby?
Waar kan jy ander mense met jou gawes bedien?