Gesonde woorde vir die virus
Ons moet onthou dat ons hele menswees ’n groot klap van die sondeval weg het. Op ’n manier is ons eintlik siek en heeltemal met die sonde bevlek. Ons is soos ’n kar waarvan die wielsporing uit is. Ons beur die heeltyd na die kant toe, na die verkeerde kant toe.
Ons basis is verkeerd. Daarom spring ons meestal uit die verkeerde blokke uit. As iemand voor ons inry, is ons oombliklik kwaad en wys dinge wat nie mooi is nie. As iemand iets skeef sê, glip daar gou ’n growwe woord of twee by ons monde uit, te laat om die verwoesting te keer. As iemand iets teen ons doen, wil ons sommer sonder aansporing terugslaan. Sommer net so.
Pas ’n skoen hier êrens? Dan moet ons dit maar aantrek, want ons almal is eintlik siek van die sonde en ons het ’n paar pille nodig om gesond te word. Ons het ’n virus wat ons siek maak en ons moet die virus uit kry.
Na parstyd in die Boland, sien ’n mens hoe mooi die wingerd verkleur. Veral die rooi blare trek die oog en word selfs deel van rangskikkings op die tafel. Maar baie van die rooi blare is eintlik ’n virus wat die plant binnegedring het. Soos verkoue ’n virus is wat die mens kan plattrek, kan die virus van ’n wingerdstok sy dravermoë en kwaliteit so negatief beïnvloed dat die blok eerder uitgetrek moet word.
Net so is ons bevlek met die sondevirus en as ons nie hierdie virus met wortel en tak uit ons lewe uitkap nie, gaan ons dravermoë en kwaliteit nie op standaard wees nie.
Nou hoe kry ons die virus uit ons wese uit?
Dink maar aan die woorde van Jesus. Jesus se woorde het mense gesond gemaak. Fisies gesond gemaak. Lammes het geloop. Blindes het gesien. Melaatses is gesond. Maar die grootste hiervan, was Sy daad aan die kruis wat die straf vir ons sondes weggeneem het.
Orals waar Jesus gestap het, het ’n spoor van genesing gelê. Nie net vir die mense van 2 000 jaar gelede nie, maar ook vir ons hier vandag. Jesus se woorde bring genesing vir die virus wat ons probeer oorrompel. God se woorde wat in Sy Woord opgeneem is, is die medisyne om ons gesond te maak van die siekte van die sonde.
Daarom moet dit wat hier uit ons monde kom 8gesonde en onaanvegbare prediking wees.
As jy verby iemand stap wat omtrent nie kan loop nie soos die siekte hom of haar platgetrek het en jy sit met die pakkie pille in jou sak, sal jy dit uitdeel vir die sieke? Vir seker sal jy mos!
Net so sit ek en jy met die medisyne wat die virus uitroei, die gesondmakende en onaanvegbare geneesmiddel vir die virus in die wêreld. Kom ons druk ons skaamte in ons sak. Kom ons maak ons monde oop, sodat ons woorde mense kan gesond maak. Sodat mense gered kan word en die ewige dood kan vryspring.
Teks
Tit 2:6-8
Om oor na te dink
Hoe lyk die virus in jou?
Waar moet jy nog werk?
Hoe moet jy vir ander help met hulle virusse?
Gebed
Here, ek het al so gemaklik met my sonde geword, maar eintlik maak dit my en ander mense siek. Help my om sonde te sien vir wat dit is en herinner my om ook vir ander mense U oplossing te gee, voordat dit te laat is. Amen.