Getroue werkers in die huis
Moses was ’n goeie dienskneg. Hy het gedoen soos God vir hom gesê het om te doen. Ja, hier en daar het sy kop ’n bietjie uitgehaak, maar met sy hele wese het Hy God gedien. Hy het sy lewe as skaapwagter vaarwel toegeroep die dag toe Hy vir God in die bos ontmoet het. Hy het al sy drome om sy eie plaas te hê, laat vaar om God se opdrag uit te gaan voer.
Hy is geroep as bouer in God se huis met ‘n spesiale opdrag: gaan lei My mense uit slawerny na die beloofde land. Steen vir steen het Moses die huis gebou, sodat die huis op die ou end klaar gebou is en die volk rustig in Kanaän kon woon en speel.
5Moses was soos ’n getroue werker in God se huis. Hy het mense ook vertel van al die dinge wat God nog in die toekoms sou sê.
Dit sou darem lekker wees as ons ons name ook so in God se Boek kon sien: Sannie was soos ’n getroue werker in God se huis; Jannie was soos ’n getroue werker in God se huis; Gerjo Ben was soos ’n getroue werker in God se huis …
Moses was egter nie net ‘n bouer en werker in God se huis nie. Hy het ook terselfdertyd in die wêreld gedien. Hy het die volk gedien en sy lewe vir hulle afgesloof. Soms het hulle hom ’n harde tyd gegee. Die volk kon baie gou kla en wou net terugdraai na die erge lewe as slawe, maar dan het Moses sy tong vasgebyt en hulle gepaai en gemotiveer om aan te hou. Hy het keer op keer hulle oë opgelig na God toe en die droom en visie weer vars laat skyn.
Moses het die seël van goedkeuring op sy werk as dienaar van God gekry. Hy het ook dieselfde toekenning gekry as dienaar in die wêreld.
En net so het ons ook twee verskillende opdragte vandag daar waar ons lewe. God het vir ons elkeen gawes gegee. Dis mos daai dinge wat so lekker is om te doen, wat nie eintlik werk is nie en vir ’n mens ’n hoop energie gee.
Met hierdie gawes moet ons in die wêreld gaan ploeg en nie noodwendig êrens op ’n plek vêr van die huis af nie. Sommer net daar om die huis, by die werk, tussen die vriende. Daar wil God jou gebruik om ’n verskil te maak.
Dalk moet jy kos gee. Dalk moet jy tyd gee. Dalk moet jy jou hande gee. Dalk ’n stukkie van jou beursie. Daar is soveel verskillende plekke waar ons in God se nuwe wêreld kan woel. Ons moet onsself net weer uit die rusbank voor die televisie gaan optrek en begin doen.
Wanneer ons dan begin doen, moet ons soos Moses ook die mense se oë lig om vir God raak te sien. Die wêreld het die mense blind gemaak vir God. Mense weet nie eens wie God is nie. Hulle ken nie die verlosser, Jesus Christus, nie. Die mens dink mos hy het nie vir God nodig nie. Hy het alles onder beheer, totdat ’n klein virussie soos die COVID-19-virus sy opwagting maak en die hele wêreld in hulle huise vasdruk. Dan eers besef hulle hoe magteloos hulle nou eintlik is.
Dit is ons verantwoordelikheid om die mense van die wêreld na God te wys. Kom ons stap voor en maak so. Sodat daar eendag geskryf staan: Sannie of Jannie was soos ’n getroue werker in God se huis.
Teks
Hebreërs 3:1-6
Om oor na te dink
Hoe woel jy met jou gawes?
Waar kan jy meer doen?
Waar kan jy meer vertel?
Gebed
Ons Here, U is die Almagtige, Reddende God. U is die antwoord vir al ons mense. Daarvoor eer ek U. Help my om saam met U in die wêreld te woel. Help my om my mond oop te maak en mense na U toe te wys. In Jesus se Naam, amen.