God se Woord in vandag se woorde

Gister vir vandag, ter wille van môre


As student het ek baie werke gehad. Een daarvan, was om ’n vriend van my te help om sy besigheid daar in die onbekende te gaan bekendstel. Die besigheid was om selfone op die lughawe te verhuur. Selfone het net die land ingekom en was vir baie mense ’n nuutjie.

Ek onthou nog hoe ek by my broer by die Spur in die Strand ingestap het met ’n jong baksteen op die belt. Hy was gefassineer, soos al die ander, dat ’n mens van enige plek kan staan en bel. Daar waar ons by een van die agterste tafels gesit het, het hy die bestuurder voor by die toonbank gebel en speels gekla oor die koffie wat so lank neem om te kom.

Dit was seker so ’n jaar vroeër, wat ’n vriend van hom kom kuier. Hulle roep my om te vertel van die nuwe VW Golf wat met die eienaar praat. Ek glo dit nie. Hy roep sy kar en wraggies daar piep-piep die kar. Hy sê ek moet hom roep, maar niks gebeur nie, maar toe hy na die Golf roep, toe piep-piep dit weer.

Ek was verbaas deur die tegnologie, net om later te hoor hulle het my vir ’n paw-paw gevang en dat dit die alarmstelsel was!

Vandag het almal selfoontjies wat in die sak pas en karre met alarms wat met ons “praat”.

Die wêreld verander teen ’n reuse spoed. Daar kom die hele tyd nuwe dinge op die mark. Die nuwe dinge van gister is vandag oud. Die nuwe dinge van môre, reeds vandag hier.

Ons mense is eintlik nie so goed met verandering nie. Ons hou daarvan om dieselfde van gister vandag te beleef en dit sal goed wees as ons dit môre ook so kan hê, asseblief.

Verandering maak ons ongemaklik. Voortdurende verandering maak ons bang. Ons wonder waar gaan alles eindig?

Ons wil en moet ons fondasie van gister vandag nog hê om môre op te bou. Dit maak ons gemaklik en laat ons spanningloos die lewe geniet.

Gelukkig is die rots waarop ons ons fondasies staanmaak so stewig soos ’n rots: 8Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos Hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees.

Soos Jesus nog voor die Skepping was, is Hy vandag en sal Hy ook aan die einde wees. Soos Jesus vir ons lief was en bereid was om vir ons aan die kruis te sterwe, so is Jesus vandag nog lief vir ons, maak nie saak wat ons aangevang het nie. Selfs daar waar ons in die toekoms nog nonsens gaan aanjaag, sal Sy liefde hoog bly brand vir ons.

Die voortdurend veranderende wêreld maak ons onrustig. Die Jesus wat gister, vandag en môre presies dieselfde is, maak ons rustig. Laat ons ons lewe bly bou op ons Verlosser en vir die wêreld wys waar werklik standvastigheid te kry is. Kom ons leef vandag op die waarheid van gister om rêrig moed te hê vir môre.

Teks
Hebreërs 11:8

Om oor na te dink
Hoe voel jy oor al die verandering in die wêreld?
Maak dit jou soms bang?
Hoe kan jy jou vertroue in Jesus wat dieselfde is, altyd in die lewe uitleef?

Gebed
Jesus, dankie dat U dieselfde bly, in ’n wêreld wat heeltyd anders lyk. Help my om U vir die wêreld te wys, sodat die mense om my ook aan U kan vashaak en weet waar hulle vastigheid is. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek