Glimlag in die gespartel
Ek stap uit die kerk. Die bedienaar van die Woord praat van die woestyn waarin ons ons soms bevind. Een of ander tyd maak ons almal ’n draai in die woestyn en dit is nie lekker nie. Die prediker vertel dat God in die woestyn besig is om dinge af te kap wat nie lyk soos sy plan van my nie. Ons moet onthou dat God ons nooit alleen sal los nie en dat daar aan die einde van die woestyn die Beloofde Land wag. Dit maak alles sin.
Hy noem egter nog een ding en dit is dat ons, soos Dawid, vir God moet loof en prys al is ons in die woestyn. Nee, nog meer, ons moet Hom loof en prys omdat ons in die woestyn is. Ek wou eintlik na die tyd na die prediker gaan en hom vra of hy regtig weet hoe woes dit in die woestyn gaan en dat daar nie eintlik plek is vir dankie sê en feesvier nie.
Toe ek egter die volgende oggend stilraak, praat Paulus uit dieselfde mond: 24Ek loop nie met ’n lang gesig rond oor al die swaarkry en lyding wat my oorgekom het nie. Inteendeel, ek is bly daaroor, want julle vind ook baat daarby.
- Miskien wil die Here vir my iets sê oor hoe ek die woestyn, swaar en beproewings in my lewe hanteer.
- Miskien moet ek ophou om met so ’n lang gesig rond te loop. Miskien moet ek ophou om myself jammer te kry.
- Miskien moet ek ophou om net heeltyd in die swaar vas te kyk.
- Miskien moet ek die groter prentjie begin raaksien.
- Miskien moet ek begin ontspan en besef dat God besig is met my en dat Hy besig is om my reg te kry.
Ons moet opstaan vir dit waarin ons glo en die babakos weggooi. As jy ’n kind van God is, kom daar ’n paar dinge outomaties by. Behalwe vir die genade, redding, hoop, liefde, ens., kom daar ook, soos die Engelsman sê: “trials and tribulations” oor jou pad. Dit is deel van die pakkie en is daar om jou te vorm.
Besef dat God met jou besig is. Besef dat God jou wil help om van jou bagasie af te gooi en jou ’n beter, bruikbare instrument in sy hand te maak. Ja, dit is nie maklik nie. Partymaal voel dit sommer of jy wil handdoek ingooi. Besef tog net dat God besig is om sy skildery nog mooier en beter te maak.
Maar ons sukkel hiermee. Dis nie maklik nie. Dis nie sommer net vir ’n skakelaar aansit en daar maak alles sin nie.
Iemand stuur vir my die storie:
Daar was eendag ’n riet wat bitterlik gekla het omdat sy eienaar hom gedurig met ’n mes gesny het, maar die eienaar het aangehou om kepe in die riet te sny. Uiteindelik het die eienaar ophou sny en die riet voor sy mond gesit en die mooiste klanke daaruit laat kom.
Die riet het in ’n fluit verander, die pyn was nodig vir verandering…
Soms laat die Here toe dat daar swaarkry of hartseer in jou lewe kom
sodat jy leer om op Hom te vertrou vir iets moois wat Hy vir jou in plek het.
Ons het baie wysheid en krag nodig van die Heilige Gees sodat ons God kan loof en prys in die woestyn. Mag Hy ons daarmee help.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Hoe lyk jou woestyn?
Watter dinge maak sin?
Watter maak nie sin nie?
Gebed
Vader, ek is eerlik as ek sê dat ek baie in die woestyn worstel. U weet dit. Ek het vir seker hope wysheid en baie krag nodig. Dankie dat U my nooit alleen los nie, ook nie in die woestyn nie. Amen.