Glip en gly
Ek verdiep myself in my werk hier agter die skerms. Ek werk al van 5vm en sit nog steeds in my nagklere. 8:30 lui die klokkie en ek hoor Frikkie skree: “Gert, kom ons moet ry!”
Dit slaan my soos ’n bak koue yswater dat ek vergeet het van die afspraak by die skool op die dorp. Dit was nie vyf minute nie, toe sit ek in sy kar. Gestort, tande gekam, skoon klere en al. Ek vermoed daar is plekke op my lyf waar daar nie water op geval het nie, maar ons is darem op pad.
Die ergste van alles is dat Frik mooi die vorige dag my herinner het van die afspraak.
Ek voel soos ’n hoender!
’n Week of wat vroeër laat weet ons mannegroep-leier dat ons die volgende oggend vroeg ons groepwoeps het. Ek laat weet mooi dat ek daar sal wees.
Die volgende oggend sit ek weer lekker en werk – al van vroegoggend af. Ek sit ook nog in my nagklere, toe die foon pieng maak: “Waar is jy? Ons wag vir jou!”
Jip, ek het vergeet en ek voel wéér soos ’n hoender.
Dis my swakheid. Ek vergeet dinge. My Alzheimer’s light is nie meer so lig nie.
Maar lyk my ek is goeie geselskap. Oom Paulus het ook ’n swakheid. 13Onthou ook asseblief om my jas en my boeke saam te bring as jy weer kom. My jas het ek by Karpus in Troas laat lê.
Ons almal het êrens ietsie wat pla, ’n foutjie hier of ’n vergeetjie daar. Daarom moet ons ruimte hê vir mekaar om soms te glip en gly. Ons moet maar weerhou om die vinger na ander se foute te wys, want gewoonlik wys daar vier vingers terug. Die wêreld sal so ’n beter plek wees as ons ruimte vir mekaar se foute het.
Maar die grootste les wat ek hier by Paulus leer, is dat Paulus nie toegelaat het dat die foutjies wat hy gehad het – en daar was vir seker meer as net die vergeet van ’n jas en ’n paar boeke – tussen hom en die uitleef van sy roeping gestaan het nie. Ten spyte van sy glip en gly het hy nog steeds sy roeping met oorgawe uitgeleef.
Ek moes vrede maak met ’n paar van my eie foute. Partykeer kon ek so hard wees op myself. Tot ek later besef het dat ek hard aan die timmer is aan my selfbeeld. Ek het myself so sleg gesê oor die glip en gly dat ek later onseker was of God so ’n moegoe kan gebruik.
Ek moes vrede maak met die feit dat ek foute gaan maak. Nee, ek sê nie ek moet dit net aanvaar en so laat staan nie. Om byvoorbeeld oor die vergeet van afsprake te kom, het ek ’n aggressiewe elektroniese dagboek aangeskaf. Maar nou ja, as daar êrens ene deurglip, is dit ook reg.
Die belangrikste is dat God ons wil gebruik. Hy is goed daarin om reguit houe met krom stokke te slaan. So bou ’n brug oor jou foute. Weet dat God jou kan en wil gebruik, al steek daar iewers ’n stukkie swakheid uit.
Wat ek nou al in die lewe uitgevind het, is dat mense met foute ander mense met foute beter hoor. Daar waar ons saam glip en gly, help ons mekaar op, raak ons sterker en kan ons met ’n volgende rondte net dalk ’n lewe red …
Teks
2 Tim 4:9-18
Om oor na te dink
Hoe lyk jou swakhede?
Waar glip en gly jy?
Waar wil God jou gebruik?
Gebed
Here, ek kan nie glo dat U my wil gebruik nie. Ek kan nie glo dat ek met al my foute goed genoeg is vir U om te gebruik nie. Ek is huiwerig om te sê dat ek vir U sal werk, maar tog is ek bereid om U verteenwoordiger hier op aarde te wees. Gee my asseblief hiervoor krag. Amen.