God se Woord in vandag se woorde

Glo dit: God bou paaie


Ek sien ’n spotprentjie van Moses en sy vriend wat langs die rivier sit en visvang. Moses se lyn hang lekker diep in die water, maar waar sy vriend ingegooi het, het die stroom opgedam en hang sy lyn in ’n droë strook grond. Sy vriend kyk hom onthuts aan en sê: “Dis nie snaaks nie, Moses!”.

Ons is darem gou om ’n grappie staan te maak.

Tog dink ek dit was nie so maklik vir Moses om daar voor die see te staan, met die hele leër van die farao wat in hulle nekke blaas nie. Die Israelite was nie gewapen om teen die soldate te veg nie. Eintlik is hulle vasgedruk teen die see en het nie uitkomkans gehad nie.

Al uitweg was deur die see. Toe God vir Moses sê dat dit die pad is wat hulle moet vat, het hy seker vir ’n oomblik gewonder of hy vir God reg gehoor het. “Is U ernstig Here? Dis ’n see, nie ’n rivier nie en ons is miljoene. Ons het g’n bote of niks nie. Hoe gaan ons hierdie ene regkry?” het hy seker vir ’n breukdeel van ’n sekonde gedink.

Ons weet ook dat die volk nie maklik was nie. Daar was hordes van hulle wat erg steeks was en nie geskroom het om hulle gedagtes op die tafel te sit nie. “Moses, wat het in jou gevaar? Is jy ernstig? Moet ons klomp mense hier deur die see swem? Dis nou malligheid. Waar het jy nou al gehoor van ’n volk wat deur ’n see geswem het? Hierdie is die begin van die einde. Ons moes nooit uit Egipte getrek het nie.” En so het hulle seker aangehou om kommentaar te lewer oor Moses se nuwe plan.

Tog laat Moses hom nie van stryk bring nie. God het wonderwerke laat gebeur om hulle daar uit slawerny te verlos. Hoekom sal Hy dan nou nie daarmee aangaan nie? Moses het bly glo dat God hier ook ’n haas uit die hoed sal pluk.

En God het. 29Dit was ook omdat die mense van God Hom vertrou het dat hulle deur die Rooisee is asof dit droë land is. Toe die Egiptenaars dit probeer het, het hulle almal verdrink.

Dit is deel van wie God is. God is God omdat Hy juis sulke dinge doen. God maak paaie waar daar nie paaie is nie. Al kos dit ’n wonderwerk, God sal Sy woord gestand hou en sorg dat daar ’n uitkoms is. Niks is vir Hom te veel nie. Al moet Hy ’n pad van etlike kilometers deur ’n see bou, sal Hy dit doen.

Ons moet dit net glo.

Dalk sit jy nou in ’n hoek. Dalk is daar geen tekens van ’n oplossing nie. Dis veral in sulke tye wat ons moet terugkyk oor ons lewe en die plekke sien waar God ons gehelp het en ’n uitkoms gebied het. Ons moet deur Sy Woord gaan blaai en al die hordes plekke sien waar Hy uitkoms gebied het vir mense in nood.

God doen dit nog steeds vandag. Hy bou brûe. Hy maak deure oop. En waar ‘n deur toegeklap is, is daar heel waarskynlik êrens ’n oop venster waardeur ons moet kruip. Gaan staan stil. Luister na God. Steek jou hande uit. God sal jou padbouer wees. Glo dit net!

Teks
Hebreërs 11:20-31

Om oor na te dink
Waar sit jy nou vas?
Hoe groot is jou krisis?
Glo jy dat God ’n uitkoms vir jou het?

Gebed
Vader, ek het nodig dat U vir my ’n pad bou. Ek is moeg en ek kan nie meer sien waar ’n uitkomkans is nie. Ek glo U kan my help. Help my asseblief nou. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek