Glo in God se krag en maak dit deel van jou
As ek om my kyk, sien ek nie die krag van God nie. Inteendeel, ek sien die ander magte wat kragtiger is en mense oorrompel en ek vra myself af: Hoekom sien ek nie meer van God se krag in die wêreld nie? Hoekom sien ek net moedelose mense wat nie vasstaan nie? Was dié vers dan net vir die mense van 2 000 jaar terug bedoel? 11God is die Een wat oor Goddelike mag beskik. Mag sy krag júlle krag word sodat julle glad nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed!
Dis nie dat God verander het nie. Nee, sy krag is nog presies dieselfde. Ek vermoed die fout lê by ons. God se krag is nie meer deel van ons nie, want ons glo nie meer dat dit vandag nog in ons kan werk nie en erger nog, ons neem nie die krag by God nie.
Ons sukkel net soos Petrus om te glo dat God almagtig is en wonderwerke kan doen. Vandag nog.
Dink net daaraan hoe krag-te-loos die evangelie sou wees as God se krag nie vir Jesus deur die dood laat bars het nie. Dink net hoe krag-te-loos sou die apostels se bediening nie gewees het nie? En Petrus was die voorbok. Sy geloof het hom gekeer om bo-oor die omstandighede te kyk en hy was op pad na ’n krag-te-lose bediening.
’n Vriendin vertel vir my hoe die storie van Petrus in een van die Apokriewe boeke weergegee word:
Na Pinkster word Jesus se volgelinge woes vervolg. Petrus smee planne om uit die stad te vlug vir sy eie veiligheid. Sluip-sluip loop hy hom onverwags in Jesus vas wat met die kruis op sy skouer loop. Verdwaas vra hy: “Here, wat dan nou? U het dan opgevaar?” En Jesus sê: “Ja Petrus, maar dit lyk nie asof jy glo nie. Nou moet ek weer gekruisig word sodat jy kan glo.”
Die krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het, was vir die Apostels beskikbaar en vir seker in hulle bediening sigbaar. Die goeie nuus is dat dit vandag steeds vir ons beskikbaar is. Tog, omdat ons nie vertrou nie en nie daarin glo nie, is dit nie orals ’n realiteit nie en kan ons dit nie aangryp en deel maak van ons lewe nie. Inteendeel! Dis asof ons die krag los vir “Jesus om weer en weer en weer gekruisig te word.”
God se krag is vir ons beskikbaar. Ons moet dit glo met ons hele hart. Daar waar ons sukkel om deur die taai van die lewe te kom, daar waar die berg in ons pad net té hoog lyk, dáár is God se krag beskikbaar vir jou en vir my wat daarin glo en daarvoor vra.
Dit is amper soos Superman. Sonder sy rooi en blou pakkie is hy maar ’n vaal outjie en kan hy nie veel doen nie. Maar sodra hy die pakkie aantrek, dra hy die hele wêreld se las op sy skouers en besit oorgenoeg krag om enige booswig van die aardbol af te vee.
Kom ons gaan raak stil by God. Kom ons eer en dank Hom dat Hy ’n almagtige God is. ’n God wat omgee en nie skroom om sy kinders te help nie. Kom ons bely ook ons ongeloof. Mag God ons genadig wees en ons tekortkominge vergewe, maar méér nog, mag Hy ons oë oopmaak en sy krag deur ons laat werk. Mag ander anders wees, omdat God se krag deur ons gewerk het.
Skrifgedeelte:
Kolossense 1:1-8
Om oor na te dink
Raak jy soms ongeduldig en moedeloos?
Glo jy dat God se krag in en deur jou kan werk?
Ervaar ander God se krag in jou lewe?
Gebed
Here, ek moet bely dat ek nie altyd U krag in my ervaar nie. Dit is seker die rede waarom ek soms so ongeduldig en moedeloos voel. Ek wil graag hê dat U krag ook my krag sal word sodat ek nie moedeloos hoef te word nie. Amen.