Glo, hoop en liefde is werkwoorde
Dis asof Paulus homself bedink nadat hy die klomp dinge van die liefde gesê het. Eintlik is daar soveel meer om te leer van die liefde, maar ons kan nie alles verstaan nie, omdat ons God nog net ten dele verstaan. 12Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien nie. Dit is soos om deur ’n vuil bril te kyk. Jy sien goeters, maar jy kan nie lekker uitmaak wat dit is nie. Ons sien God in die Bybel en ons sien Hom in die natuur en sy skepping hier om ons, maar steeds kan ons nie alles van Hom sien nie.
Tog sal daar eendag ’n dag kom wat ons alles weet: 12… Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ’n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet.
Die vraag is: Wat doen ons tot dan? Hier is Paulus se voorstel: 13Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en die liefde. En van hulle staan die liefde boaan die lys.
Die eerste wat ons moet doen, is om aan ons verhouding met God te werk. God wil hê dat ons meer en meer van Hom moet leer. Ons moet ’n pen inkap sodat ons elke dag by God se Woord kan uitkom. Hoeveel keer het ons al uitgemis om nog ietsie van God te leer omdat ons net te snoesig in die bed gelê het?
God smag na ’n intieme verhouding met ons. Hy wil ons so graag bederf. Hy wil so baie aan ons bekend maak, maar Hy gaan dit nie sommer vir ’n vreemdeling êrens langs die pad gee nie. Nee, Hy wil dit graag vir sy kinders gee wat Hom goed ken en wat in ’n intieme verhouding met Hom staan. Hy wil graag sy wil openbaar, leiding gee en hulp gee waar sy kinders Hom nodig het.
In die tweede plek moet jy met alles wat jy het vasklou aan jou geloof. Vasklou aan die waarhede van die Skrif, want daar gaan al hoe meer mense kom wat sê: Jou kop raas. Daar is nie ’n God nie. Sommige gaan met ander slim idees kom soos oor kragte wat eintlik uit bossies kom. Mense is nie lekker nie en dan glo hulle hulle weet alles – ons moet net saamkom. Dit is sulke tye wanneer ons soos ’n kind moet aanhou glo. Glo dat God sy beloftes sal waar maak, dat die hekke van die hemel eendag sal oopstaan en dat elkeen wat Hom die Koning van hulle lewens gemaak het, met ope arms ontvang sal word. Come high, come low, hou met alles in jou vas aan die beloftes van God.
En laastens kom die liefde by die eerste plek in. Sien jy dat dit alles dinge is wat ons van ons kant af moet doen? Ons moet werk aan ’n intieme verhouding met God. Ons moet self vasklou aan ons geloof. En ons moet lief hê. Werkwoord! Dit is amper soos koffie wat in Stellenbosch ’n werkwoord geword het. Ons sê: Gaan jy gou by daai shop saam met my koffie. Ons moet liefhê.
Dalk het dit nou tyd geword om weer deur 1 Korintiërs 13 se definisie van die liefde te blaai. Kom ons maak seker dat die liefde in ons deur ander gevoel sal word, omdat ons liefde ’n werkwoord gemaak het.
Om oor na te dink
Glo jy?
Hoop jy?
Het jy sigbaar lief?
Gebed
Ons Vader, ek glo met my hele hart dat U U beloftes sal waar maak. Ek smag na ’n intieme verhouding met U. Ek wil so graag liefde ’n werkwoord maak orals waar ek gaan. Ek neem U uitnodiging aan en sal elke oomblik saam met U stap. Amen