Glo!
Ons almal ken die verhaal van Abraham. Abraham en sy vrou Sara het geglo. Hulle het bly vashou aan die belofte dat hulle ’n seun sou hê, al was Sara al diep in die tagtigs en Abraham ’n volle eeu oud. Ja, toe hulle jonger was, het hulle ook foute gemaak. Hulle was gewone mense en hulle geloof het hulle ook soms ontwyk. Veral toe God so lank vat om sy beloftes na te kom. So het Abraham ingestem met Sara se plannetjies en by Sara se slavin, Hagar, ’n kind verwek. Dit was ’n fout. Die gevolge was katastrofies. Hagar en Abraham se seun, Ismael, moes vlug.
Abraham het sy skuld erken en sy sonde bely. En op ’n manier het hy bly glo. Selfs toe hy 100 jaar oud was, het hy nie toegelaat dat sy geloof gesteel word nie. Nie eers deur enige iemand wat sê dit is onmoontlik vir sulke twee stokou mense om nog kinders te verwerk nie en nog minder deur ’n skuldgevoel omdat hulle in ’n stadium hulle eie plannetjies gemaak het en teen God gesondig het nie. Hoe maklik sê ons nie vir onsself dat dinge nie uitwerk nie omdat ons dit of daai verkeerd gedoen het nie. Nee, die Here kyk nie eens meer na my nie, want ek is eenvoudig net te sondig. En as ons ons weer kom kry, is ons geloof by die deur uit.
Abraham het ’n fout gemaak. Maar Hy het ook sy God geken. Hy het geweet God is genadig en daarom kon hy deur sy fout nog steeds bly glo. 6Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, maak nie saak hoe ongustig die winde van die lewe vir Abraham en Sara gewaai het nie, hulle het bly glo.
En die gevolg? ’n Gesonde verhouding met God. Ai, hoe begeer God nie ’n verhouding met ons nie? God sit in afwagting, elke oomblik van die dag, dat ons ’n stukkie van ons tyd vir Hom sal afsonder, maar ons is eenvoudig net te besig. Die lewe hol so vinnig en as ons ons weer kom kry, voel ons skuldig. Die skuldig voel steel ons geloof en ons verhouding met God bly net nie lekker nie.
Wat moet ons doen?
Ons moet soos Abraham, te midde van alle omstandighede, bly glo. Ons moet met alles in ons bly glo dat God vir ons sal deurkom. Al lyk die realiteite om ons anders. Al skree selfs die wetenskap teen ons, moet ons aanhou glo. Selfs al het ons ’n paar keer buite die wil van God opgetree moet ons aanhou glo. Ons moet glo in ’n liefdevolle God. Ons moet glo dat God alles sal omkeer en vir ons op die regte tyd sal deurkom – soos Hy vir Abraham en Sara deurgekom het.
Die effek van Abraham se geloof het tot gevolg gehad dat miljoene mense voordeel sou trek. 8Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.” 9Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem.
Ons is deel van dié seën. Ek en jy lewe nou uit die voordeel van Abraham se geloof – duisende jare nadat hy hier op aarde geleef het. Die vraag is: Wat maak ons met die seën? Is ons geloof ook tot seën van ander? Word mense om ons bevoordeel omdat ons glo?
Nie ’n maklik vraag om te antwoord nie.
Tog is dit nie moeilik om te laat gebeur nie. Glo in God en hou met alles daaraan vas. Sorg dat jou verhouding met God in plek en gesond is. God se seën sal op jou neerdaal en wanneer God seën, seën Hy mildelik, sodat van die seën ook op die mense rondom jou sal val.
Teks
Om oor na te dink
Glo jy?
Glo jy dat God se seën ook vir jou bedoel is?
Word ander geseën omdat jy glo?
Gebed
Vader, ek het eintlik die boodskap nou so nodig gehad. Soms bewe my geloof, veral as die realiteite so om my opstaan. Ek bely my ongeloof en roep nou weer uit: Ek glo! Ek glo in ’n magtige God wat altyd gereed staan om in ’n verhouding met my te wees. Dankie Here, dat U ten spyte van my en my dade nog steeds aanhou om vir my lief te wees. Ja, ek glo. Ek kan nie anders nie. Amen