God se Woord in vandag se woorde

God bly altyd soos Hy is


Ek staan die oggend soos gewoonlik lekker vroeg op en sit en kyk na die sonsopkoms. Ek het net my vers vir die dag gelees en trek die rekenaar nader om my gedagtes vas te pen, toe ek opmerk dat my fiets nie in sy staander staan nie.

Daar gaan so ’n swaar, donker gevoel oor my.

Ewe skielik onthou ek van Renata se splinternuwe, duur fiets waarvoor ons so lank gespaar het. Ek swaai om en sien dat haar fiets ook nie op sy plek is nie. Ek skrik my boeglam en skree kliphard uit: “Die fietse is gesteel!”

Dis ’n konsternasie. Die hoof van die park waar ons kamp, maak al die veldwagters bymekaar om in die bos te gaan soek. Die boewe steek gewoonlik die buit weg en kom haal dit dan later as dinge afgekoel het.

Die huiseienaarsverening se lid vir sekuriteit van die dorp langsaan kom verneem wat gebeur het en waar hulle kan help. Die munisipaliteit van die groot dorp stuur ook ‘n verteenwoordiger.

Ek kan niks vir die res van die dag doen nie. My gemoed is teen die grond. Ek loer wat kos dit om die fietse te vervang en ek besef daai gaan nie dadelik kan gebeur nie. Ons sal nou eers ander maniere moet kry om te oefen.

Soos ek nou terugdink daardie dag, sien ek hoe my emosies met my op loop geraak het. Ek was kwaad en ontsteld. In ’n stadium was ek bang. Ek het met vraagtekens rondgeloop en ek weet ek was nie ’n goeie persoon om ’n geselsie mee aan te knoop nie.

Later die dag kom die polisie hier aan met een van die fietse en ek is so dankbaar, dat my gemoed weer lig en ek voel weer heel goed sodat ek saam met die ouens kon lag oor goeie dinge wat tog nog gebeur.

Op en af, gaan ons mense se emosies. Soos branders heen en weer, gaan ons emosies soos die dinge om ons verander. As daar iets slegs met ons gebeur, is ons tussen die vloer en die politoer. Wanneer dit voor die wind gaan, is ons weer hoog in die wolke.

God is egter nie so nie. 16Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie. Hy is ook nie die een dag in ’n goeie bui en die volgende dag in ’n slegte bui nie. Hy bly altyd dieselfde. Hy het alles gemaak, ook die sterre in die hemel.

Ek dink dat ons baie keer na God kyk en dink dat Hy soos die mens is, maar dit is glad nie so nie. God kyk nie na ons wat padaf is en uit woede laat Hy ons swaarkry nie. Nee, God is liefdevol en daar is niks wat ons mense kan doen om die liefde wat Hy vir ons het, minder te maak nie. God se emosies kan nie deur omstandighede verander nie. God is dieselfde, dag in en dag uit.

Al verander ons, doen ons reg of verkeerd, smokkel my emosies met my kop, is ek tussen die vloer en die politoer of bo in wolke, kan ek enige tyd na God toe gaan en Hom daar kry, soos wat Hy gister en eergister en die dag daarvoor was. Presies dieselfde.

Teks
Jakobus 1:12-18

Om oor na te dink
Hoe loop jou emosies?
Sien jy ook vir God reg?
Wat beteken dit vir jou?

Gebed
Vader, dankie dat U altyd dieselfde is. Jammer dat ek so gereeld aan my emosies toegee en nooit dieselfde is nie. Dankie dat ek in enige van my toestande na U toe kan kom en altyd dieselfde God daar kan kry. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek