God se Woord in vandag se woorde

God in die rubber duck met die brandblusser in die hand – Romeine 8:31-39


God in die rubberduckKliek hier om die teks te lees: Romeine 8:31-39

Ek het eendag ’n fliek gesien waar vriende met bloed ’n kontrak tussen mekaar gesluit het. Elkeen het ’n diep sny op sy hand gemaak en dit teen die ander een se sny gedruk om te wys dat hulle nou ’n onbreekbare vriendskapsverbond met mekaar gesluit het. Niks in hierdie wêreld kan nou die kontrak tot niet maak nie.

Amper soos die vriende met hande vol snye, het jy ook ’n bloedkontrak met Jesus. Hy het aan die kruis gesterf vir jou. Sy hande en voete is met spykers deurboor sodat die bloed kon vloei vir die kontrak tussen jou en God. Jesus se sy is deurboor met ’n spies sodat daar nog bloed kan loop vir die kontrak wat God tussen jou en Hom gesluit het. Die kontrak is gesluit nog voordat jy kon kies of vra. God het van sy kant af gekom en ’n kontrak met die bloed van sy eie Seun met jou kom sluit. Verstaan jy watter passie God vir jou het? God het jou ontsettend lief. 31Wat is ons gevolgtrekking oor alles wat ons tot nou toe gesê het? Dít: God is aan ons kant.

Glo jy my nie? Kyk na die volgende vers! 32God gee so baie vir ons om dat Hy nie eens sy eie Seun se lewe gespaar het nie. God het jou so lief dat Hy met sy eie Seun se lewe, se bloed, ’n kontrak opstel.

Dit is ’n wonderlike belofte waaraan ons die heeltyd kan vashou. Vir die res van ons lewe weet ons dit. Wanneer jy dalk in moeilike omstandighede sit en dit voel of die branders jou gaan omslaan, moet jy weet dat God al die stoppe vir jou sal uittrek. Gaan lees weer in Jesaja 43 waar God sê dat as jy deur diep riviere gaan, jy nie oorspoel sal word nie. God is net agter jou met die rooi rubber duck. Jy sal nie verdrink nie.

En as dit so warm word dat die vlamme begin trek, moet jy weet dat dit jou nie sal skroei nie. God staan by jou met die hemelse brandblusser. As dit net lyk of die vlamme jou wil brand, sal Jesus die veiligheidspennetjie van die brandblusser dadelik uittrek en die vlamme begin blus.

God is aan ons kant.

Dit moet ons op ons harte skryf, want swaar tye is deel van die mens se bestaan. Een of ander tyd gebeur daar iets in ons lewe wat nie lekker is nie. Verhoudings wat uitmekaar val. Finansiële horisonne waar dit lyk of die son wil sak. Ewe skielik kom hang daar ’n swaard oor ons gesondheid of selfs dood kom maak sy opwagting by jou deur. Dit is die realiteit. Ons lewe in ’n tyd waar sonde nog ’n vatplek kry. Ons lewe waar mense soms net nie lekker besluite neem nie en nou sit ons met die gebakte pere.

Soveel te meer moet ons die bloedkontrak van God deel maak van ons bestaan. Ons moet die belofte van God op papiertjies skryf en orals opplak. God is aan ons kant. Hy doen al die moeite om in die rubber duck agter ons te wees en seker te maak dat die omstandighede ons nie verswelg nie. Onthou dat God reg langs jou staan – met die brandblusser in die hand. As die vlamme te erg raak, kan jy maar net vra. God sal help. Daar is ’n bloed kontrak.

Om oor na te dink

Hoe lyk die omstandighede aan jou kant?

Glo jy in die bloedkontrak?

Glo jy dat die omstandighede jou nie sal oorspoel of verbrand nie?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek