God se Woord in vandag se woorde

God die Vader se hart


’n Baie bekommerde moeder sit met ’n kind wat nie altyd op die regte pad is nie. Sy sit met baie vraagtekens:

Hoe voel jou hart as jou kind sy eie kop volg en ’n los lewe lei? 

Gaan jy nie altyd bly hoop (en bid) dat hy/sy van plan sal verander nie?

Jy keur nie altyd sy/haar besluite en dade goed nie, maar jy hou nooit op om vir hom/haar lief te wees nie!

En as jou kind dan die idee kry dat jy nie meer van hom/haar hou nie, hoe reageer hy/sy dan?

Dalk verloor jou kind belangstelling in die lewe en rebelleer . . .

Maar as jy jou kind dissiplineer en die versekering gee dat jy nog steeds lief is vir hom/haar, hoe gaan hy/sy dan reageer?

Wat word gesien as sonde teen die Heilige Gees? 

Sondig ons nie dalk self teen die Here / Heilige Gees as ons dink Hy hou nie meer van ons nie?

Dié moederhart trek swaar. Ons sien presies wat in die moederhart aangaan. Al maak haar seun wat. Al kies hy die verkeerde pad. Al bring sy manier van dade baie trane, sê die moeder: “Maar jy hou nooit op om vir hom lief te wees nie!”

God se hart teken ’n prentjie van liefde wat nie ophou oorloop van liefde vir die mens nie. God trek alle stoppe uit vir ons. Hy kan Homself nie keer om goed te doen aan ander nie.

Kyk, vir ’n klomp mense wat wil saamwerk en hulle bes probeer, sal ek berge versit. Maar vir ’n klomp mense wat die heeltyd net moan en dwars trek en presies doen wat ek sê hulle nié moet doen nie, sal ek net so los dat hulle hulself te pletter loop.

God kan egter nie anders as om elke oomblik van die dag ’n plekkie te soek om goed te doen nie. Hy word so gedring deur sy liefde vir die mens dat Hy enige iets sal doen om hulle net weer by Hom te kry. 7Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het.

Die bekommerde moeder hier bo, is soos God. Maak nie saak wat die dom keuses is wat die seun doen nie, dit maak nie haar liefde vir haar kind dood nie. Maak nie saak wat ek of jy aanvang nie, dit maak nie die liefde wat God vir ons het dood nie. Dit is hoe goed God vir ons is. Hy sal selfs sy Seun laat sterf, sodat Hy die straf vir ons verkeerde dade kan dra en ons tog net by Hom kan uitkom. Dit is hoe God se Vaderhart lyk.

Ek dink nie ons besef ten volle hoe groot God se liefde vir ons is nie. Ek dink nie ons besef werklik hoe graag God vir ons goed wil wees nie. Dalk moet ons probeer om te lewe as mense wat ’n Vader het wat ons wil seën en dalk moet ons begin om die seën aan ander oor te dra. Ek vermoed dat daar ’n merkbare verskil in die wêreld sal wees as al die kinders van God so gaan leef.

God, die Vader, se Vaderhart pomp goedheid en liefde. Gaan leef daarin.

Teks

Efesiërs 2:1-10

Om oor na te dink

Glo jy dat God net goed wil doen?

Maak jy spasie vir God se goedheid in jou lewe?

Deel jy daarvan uit?

Gebed

Vader, ek moet bieg dat ek nie altyd glo dat U my nog liefhet nie. Soms voel dit vir my of ek dit nie maak nie en tog gaan dit nie oor wat ek doen nie, maar eerder oor wat U doen. Dankie vir al u goedheid. Dankie dat U nie moed opgee nie. Dankie dat ek weet dat u liefde vir my nooit sal ophou nie. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek