God dink die wêreld van jou
Die dae in die weermag was nie lekker nie, maar goed. Ek het baie van myself en ander geleer. Maar ek het ook baie geleer van die weermag en hoe dinge daar werk.
As jy by die weermag aankom, is jy eintlik niks nie. In die eerste ses weke basies, wat soos ’n jaar gevoel het, is jy afgebreek tot minder as niks nie. Wanneer jy ontslae geraak het van al die burgerlike maniere, het die luitenant en korporaal wat bo jou aangestel is, begin om die weermag se dinge in jou te laat opstaan.
Ek het besef as jy êrens in die weermag wil kom, jy ’n rang moet kry, want dan hardloop jy nie elke vyf minute na ’n bossie daar doer vêr nie. Jy moet ’n kursus of twee doen, dan kry jy rang en raak jy ’n man oor honderd.
Tog is jy nooit sonder toesig van die persoon bo jou nie. Die kaptein loer oor die luitenant se skouer en die sersant loer weer oor die korporaal se skouer. En o wee, oor die sersant se skouer het die sammajoor gebulder.
Aan die offisiere se kant was daar nie so ’n groot stofwolk of geraas nie. Hulle is met groot respek behandel. Elke keer as ’n offisier met ’n hoër rang verbystap, moes die persoon gesalueer word.
Die offisiere se range het soos volg geloop: luitenant, kaptein, majoor, luitenant-kolonel, kolonel en dan brigadier-generaal wat die belangrikste was. Om van die een rang na die volgende bevorder te word, moes jy baie kursusse doen, baie hard werk en ’n baie spesiale mens wees.
Die eerste minister het die veiligheid van die land aan die hoof van die weermag toevertrou. Hy moes sorg dat die landsburgers veilig is en lekker snags in hulle huise kan slaap.
Wanneer God egter die mens aanstel, begin hy nie onder as ’n troep en word eers afgebreek tot niks nie. Nog minder hoef die mens homself op te werk deur die range om uiteindelik bo uit te kom, om in beheer te wees.
Nee, God stel die mens heel bo aan, net onder die engele: 7En tog, U het die mens vir ’n rukkie ’n laer posisie as die hemelse wesens gegee. U het egter vir die mens die eer gegee wat net konings het. 8U het alles vir hom gegee om oor te regeer.” As die Skrif sê dat God alles aan die mens gegee het om oor te regeer, beteken dit álles, sonder enige uitsondering.
God het baie vertroue in die mens. Hy is bereid om die hele bestuur van die wêreld vir die mens te gee. Hy stel die mens in die hoogste posisie aan en vertrou ons daarmee.
Dit beteken vir my so baie. Wanneer ek volgende keer weer tussen die vloer en die politoer wil inklim, omdat my selfbeeld soek is of ek net eenvoudig geen selfwaarde het nie, sal ek myself herinner dat God anders van my dink. Hy dink so baie van my, dat Hy my in die hoogste rang aanstel, met die eer wat gewoonlik net konings toekom.
Daarom kan ek my kop optel en vandag die lewe met ’n drafstappie inhol, want God dink die wêreld van my.
Teks
Hebreërs 2:5-10
Om oor na te dink
Hoe lyk jou selfbeeld?
Sien jy jouself soos God jou sien?
Vir wie moet jy wys dat God hulle belangrik ag?
Gebed
Vader, U is ’n goeie vader. Deur U oë het ek weer waarde en kan ek die wêreld aanvat. Dankie! Amen.