God eerste
Dit is vir die meeste van ons belangrik wat ander van ons dink of sê. Hoe ander ons sien en ervaar is soms so belangrik dat ons selfs dinge begin doen wat eintlik vreemd is. Ek wonder hoekom dit so belangrik is om in te pas of goedkeuring van die mense om ons te kry?
Eintlik gaan dit glad nie oor wat ander van ons dink nie, maar eerder wat God van ons dink. In plaas daarvan om te vra wat Sannie of Piet van my nuwe kleredrag dink, moet ons eerder vra wat God van ons dink.
Dit gaan egter nie net oor wat God en mense van ons dink nie, maar ook wat hulle aan ons doen. Ons is wie ons is omdat ons verhoudingsmense is. Die ander partye in ons lewe vorm ons, laat ons nuwe rigtings inslaan en is soms ons krukke om weer op te staan. Die vraag is weer hier: Wie is die belangrikste in jou lewe? Dit wat mense vir jou doen of dit wat God vir jou doen?
Ja, God gebruik baie keer mense om ons te help en te wys waar die nuwe pad is. Maar die fokus moet nooit van God afgehaal word nie. Die mens mag nooit God se plek in ons lewe inneem nie.
3Ons, die Christene, weet mos wat regtig saak maak. Dit hang nie af van wat mense aan jou doen nie, maar wat God aan jou doen. God self (en nie mense nie) het sy hand op ons gelê.
Wie staan sentraal in jou lewe? Wat is vir jou die belangrikste? Is dit om aanneemlik in mense se oë te wees of is dit vir jou belangrik dat God alles in jou lewe is?
Ons lewe die heeltyd in mense se fisiese teenwoordigheid en daarom is dit vir ons belangrik wat hulle van ons dink. Dit wat hulle vir en aan ons doen, is net so belangrik, maar ons moenie toelaat dat dit God se werk in ons lewe oorskadu nie. Ons moet te alle tye God se verlossende werk in die middel van ons lewe plaas.
God is die een wat eerste na ons uitgereik het. Hy het sy Seun na die aarde gestuur om ons te help om in die hemel te kom. As dit nie vir Jesus was nie, sou ons vir altyd sonder God moes leef. Hy is die middelpunt van ons lewe. Hy is die begin en die einde. Hy is alles in ons lewe en dit moet ons vertrekpunt wees. Hy moet die hoeksteen wees waarop ons alles bou.
Die vers skryf Paulus na aanleiding van die vraag of besnydenis nog belangrik is. Die mense het regtig gestoei hiermee en nie geweet wat is die regte manier nie. Daarom dat Paulus vir hulle sê dat wat mense doen, nie ’n patch is teenoor dit wat God vir ons gedoen het nie.
Paulus maak weer ons oë oop. Ons word so maklik ingetrek in wat mense sê en doen dat dit vir ons belangriker raak as hoe God daaroor voel. Ons moenie toelaat dat mense belangriker raak as God nie. Mense kan ons maklik op die verkeerde pad lei, maar God nooit nie.
God verander nie. God staan vas. God se boodskap staan vas. Ons moet net sorg dat God sentraal in ons lewe staan. Ons moet onthou dat Hy ons aangeraak het en dat ons daarom anders is. Ons is kinders van God. Hy is ons Vader en die belangrikste in ons lewe en ons moet sorg dat Hy te alle tye die middelpunt van ons lewe bly.
Om oor na te dink
Wie is vir jou die belangrikste?
Staan God sentraal in jou lewe?
Wat beteken dit dat God jou aangeraak het?
Gebed
Vader, die uiterlike is nie vir U belangrik nie. Wat vir U belangrik is, is wat in ons harte aangaan. Mag die werk van U Heilige Gees in ons meer sigbaar wees as dit wat ons aan die buitekant voorgee. Amen