God se Woord in vandag se woorde

God fluister sodat jy ander help


God praat met Sy kinders deur Sy Woord. Dit is Sy mikrofoon. Net jammer dat die volume baie laag gestel is. Maar dit is God se aard. Hy skree nie. Hy praat saggies, soos oupa.

Ek onthou hoe my oupa by ons in die huis gelê het. Hy was bedlêend en my ma moes alles vir hom doen. Hy was verrimpeld. Ek was nog baie klein. Ons mag nooit daar gespeel of geraas het nie. Oupa was op pad uit.

Maar oupa was baie lief vir gesels en as hy iemand sien, moes jy nader stap om te hoor. Hy het baie stories gehad om te vertel, maar die stem wou nie meer werk nie. Dit was amper ’n fluister. Om dus te kon hoor, moes jy jou oor op sy mond hou. Die fluister het my oor gekielie.

God praat ook so sag. Maar Hy praat nog vandag. En Hy wil ook met jou gesels, al is dit sag. Hy wil elke dag deur Sy Woord met jou gesels. Ek weet dit, want Hy het al soveel keer met my gesels. Elke keer het ek dan so opgewonde opgestaan en kon nie wag om dit met ander te deel nie.

Tog was daar baie dae, rêrig baie dae wat die lewe net gebeur het of die bed warmer was en ek die fluister gemis het. Jip, ek het uitgemis en dis duidelik te sien aan ’n hoop verkeerde keuses.

Sag wil God ons lei deur Sy gefluister in Sy Woord. Hy wil ons wys waar ons moet loop en waar ons eerder versigtig moet verby hou. En soos ek myself ken, as ek die oggend die fluister gemis het, het ek nie versigtig verbygehou nie, maar eerder ingedons met katastrofiese gevolge.

Klink dit dalk bekend?

Maar meer nog. God wil Sy fluistering in ons gebruik om ander te help. Hy wil vir ons die wysheid oorhandig om nie net onsself op die pad te help nie, maar ook ander wat erger sukkel om Sy fluister te hoor.

Daar is soveel mense wat sukkel daar buite en sonder hoop ronddwaal. Hy wil vir hulle deur ons hoop bring. Hy wil die wat huil vertroos. Daarvoor moet ons opdaag. 9Die Here se Woord waarin hy self onderrig is, moet die anker van sy lewe wees. Dan kan hy hierdie betroubare kennis gebruik om ander gelowiges moed in te praat en te troos.

Dis ’n opdrag. Ons wat kinders van God is wat in Sy Woord wandel moet dit doen. Ons is die reddingspaal waarin die wat swaarkry kan vasklou.

Dit gaan egter nog verder. Mense kan nie meer onderskei waar die lyn van reg en verkeerd loop nie. Alles lyk nou reg. Doen wat jy wil, skree die wêreld. Dis hoekom dit lyk soos dit lyk.

Ons opdrag is ook om die lyn te gaan wys en uitleef sodat mense kan sien waar hulle moet loop en waar nie. Daarom gaan die opdrag aan: 9… Maar hy moet hierdie kennis ook gebruik om mense wat vals leerstellings verkondig te wys dat hulle verkeerd is.

Kom ons kry ’n spesifieke tyd in die dag. Kom ons kry ’n spesifieke plekkie om stil te raak. Daar sal ons God se fluisteringe hoor.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Luister jy genoeg na God se fluister?
Help dit?
Help jy ander?

Gebed
Vader, dat die God van die heelal in my belangstel en met my wil praat, gaan soms my verstand te bowe. Help my om lank genoeg stil te word om U stem te hoor. Help my ook om nie dit vir myself te hou nie, maar ook vir ander U hoop te bring. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek