God gee spesiale oomblikke
’n Vriend van my en sy gesin was in die wildtuin. Hulle vertel opgewonde van die lekker uitstappie. Voor hulle weg is, het elkeen vir die Here vir ’n spesiale ervaring met ’n spesifieke dier gevra. My vriend wou graag ’n ratel sien, sy vrou ’n leeu ordentlik hoor brul en hul dogter wou ’n luiperd sien.
My vriend het met al sy besoeke aan die wildtuin nog net een keer ’n ratel gesien. Dié keer sien hy sommer twee. Hulle sit en kyk na ’n trop olifante en wie kom van die kant af, oop en bloot aangestap? Oom luiperd. Sy dogter is in ekstase.
Almal is in die huisie, behalwe sy vrou wat by die vuur sit. Toe kom daar ’n oorverdowende gebrul van ’n leeu, soveel so, dat hy dink hy moet sy vrou gaan red, die leeu is in die kamp. Sy vrou glimlag wyd as hy dit vertel.
“Die Here is goed,” eindig hy sy wildtuinstories af. En ek wonder of ’n mens dit sommerso van die Here kan vra.
Die volgende dag is ek op soek na materiaal vir die matras van die 4×4-wa wat ek besig is om te restoureer. Dis maar duur. Toe vang my oog ’n stuk materiaal wat presies dieselfde is as die materiaal van ons ou matras. Die kans om dié nuwe materiaal van die 15-jarige matras te kry, is vir seker onmoontlik. Of so het ek gedink.
Die eienaar sê dit kos R90 per meter. Toe dit egter van die rak afgehaal word, dop die R55 per meter-kaartjie uit. Hulle kyk in ongeloof na die kaartjie, want hulle het seker gemaak dat al die ou pryskaartjies vervang is. Die dame wat die materiaal sny, sê onderlangs dat sy die pryskaartjie dadelik gaan vervang as sy klaar ons meters gesny het.
Ek ry huis toe en sê: “Die Here is goed!” Soos my vriend, ervaar ek dit aan my eie lyf. God wil vir ons goed doen. God wil plekkies soek om vir ons spesiale dinge te laat gebeur. God onthou ook daardie kere wat ons goed gedoen het. God wil van Sy stortvloed van seën oor ons laat reën. Dis Sy styl.
10God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom lief het, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan.
Vir seker doen ons nie aan ander goed, sodat God vir ons goed kan wees nie. Ons doen dit mos uit liefde vir God. Ons doen dit uit dankbaarheid vir alles wat God vir ons doen en gedoen het. Om goed te doen aan ander gelowiges, is ’n outomatiese uitvloeisel as ’n mens God se verlossing aan jou lyf ervaar.
God stop egter nie daar nie. God wil Sy genade oor ons laat reën, nie net as ons eendag van die aarde af vertrek nie, maar ook nou, terwyl ons hier lewe. God wil nou ook vir ons spesiale ervarings gee. God wil ook vir ons spesiale goeters gee, teen spesiale pryse. Dis Sy styl.
Ja, ons doen nie goed om te verdien nie. Maar jy mag vir spesiale oomblikke vra. God gee dit vir ons. Ons moet net ons oë oophou en verwag dat God ons gaan seën.
Teks
Hebreërs 6:9-11
Om oor na te dink
Kort jy spesiale oomblikke?
Kan God dit vir jou bied?
Glo en leef jy dit?
Gebed
Vader, U is ’n goeie God. U wil die beste vir U kinders hê. Ek glo dat U elke dag spesiale oomblikke vir ons beplan. Help my om dit raak te sien. In Jesus se Naam, amen.