God het nie sleg
Ons is met vakansie en almal kuier oor en weer. Dis lekker en die lag hoor ’n mens vêr in die strate af eggo. My vriend en sy broer en die se seun kuier tot laat. Almal gaan met ’n groot glimlag bed toe.
Die volgende oggend hoor die seun ’n snaakse geluid uit sy pa se kamer. Hy storm soontoe, net om te sien hoe sy pa sy laaste asem uitblaas. Dit was ’n massiewe hartaanval.
Die lewe loop snaakse draaie. Die een oomblik is ’n mens hoog in die wolke, net om die volgende oomblik tussen die vloer en die politoer te wees.
Dit is in sulke omstandighede wat ons so graag die oorsaak wil weet. Was die hart net swak? Was dit beplan? Word ’n mens se laaste ouderdom êrens in ’n boek geskryf, nog voor ons geboorte?
In hierdie donker tye eindig ons gewoonlik op met: Hoe is God betrokke? Is Hy die een wat ’n stokkie daarvoor gesteek het? Is Hy dan die een wat die seer laat gebeur het?
Dis menslik om so te dink, want ons mense wil altyd weet hoekom. Ons wil weet hoe dinge in mekaar steek. Op die ou end moet iemand die pak vat vir die swaar en seer wat ons getref het. En wanneer ons nie meer antwoorde hier op aarde kry nie, wil ons dit voor God se deur gaan sit.
Jakobus sê reguit dat ons nie die fout moet maak nie: 16Liewe broers en susters, moenie toelaat dat mense julle allerhande stories hieroor vertel nie. God het niks slegs in Hom nie.
Iemand moet die skuld kry en as ons nie die skuldige hier op aarde kry nie, moet dit God wees. En wanneer ons dan die “skuldige” gekry het, is ons tevrede en kan ons aangaan met ons lewe.
Dis egter so vêr van die waarheid. God sit nie in die hemel en dink waar Hy iemand ’n poets kan bak nie. God sit nog minder en maak plannetjies om die wêreld en Sy mense ’n les te leer. Iemand wat so iets doen, getuig nie van die liefde nie en is juis die teenoorgestelde van ons God.
Want so lief het God die wêreld gehad … Dis ons God! ’n God wat oorloop van liefde. ’n God wat Sy sondige kinders so liefgehad het, dat Hy bereid was om Sy enigste Seun aan ’n kruis op te offer, sodat hulle nie die pak hoef te vat vir al die sondes wat hulle doen nie.
Dis God. Ons God het net goed in Hom. Hy wil vir ons net die beste hê. Hy wil ons nie te na kom nie. Hy wil nie van ons neem nie. Hy vat nie harte se klop weg nie. Hy bring nie swaar oor Sy kinders nie.
Daarom kan ons juis in die swaar en seer tye na God gaan, want daar is ware troos. Daar kan ons ons vraagtekens gaan los en vrede kry, al verstaan ons nie altyd alles nie.
Teks
Jakobus 1:12-18
Om oor na te dink
Hoe maak jy met jou swaar?
Hoe ervaar jy God in jou swaar?
Sien jy God as goed?
Gebed
Vader, ek is nie altyd so rustig as ek swaarkry nie. Soms wonder ek ook waar dit alles vandaan kom en as ek met die hande vol leë vraagtekens staan, is dit vir my moeilik. Ek kom staan dan net by U. In Jesus se Naam. Amen.