God se Woord in vandag se woorde

God hou ons staande – Romeine 16:25-27


Kliek hier om die teks te lees: Romeine 16:25-27

Paulus het nie self die pen vasgehou met die skryf van die brief Romeine nie, maar ’n man met die naam Tertius het die diktasie van Paulus neergeskryf. Daar word vermoed dat Tertius die brief aan Paulus teruggelees het en hier aan die einde het Paulus self die pen opgeneem en die laaste paar verse in sy eie handskrif neergepen.

25God besit al die mag. Niemand in die hemel of op die aarde is so sterk soos Hy nie. God sal sorg dat julle in Hom bly glo. Ek weet dit omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus ken.26Ek maak dit oral bekend, ook aan julle. Baie eeue lank het mense nie geweet wat God se verlossingsplan is nie, maar nou het Hy dit openlik kom bekendmaak. God het beveel dat dit wat in die profete opgeskryf staan, nou verkondig moet word aan mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie. Hy wil hê dat hulle ook in Hom moet glo en doen wat Hy sê.

En noudat ons klaar deur Romeine gestap het, wat nou? Al die kennis is nou geopenbaar. Jesus Christus het self God se Boodskap aan die mense kom oopbreek. God se verlossingsplan is nou aan almal bekend. Almal weet dat Hy na die aarde toe gekom het om vir ons sondes te sterf. Ons weet dat, as ons ons sonde bely, is Hy getrou en regverdig om ons van al ons sondes te verlos. Dit is die verlossende Boodskap wat bekend gemaak is.

Die vraag is: wat maak dit aan jou? Daar waar jy in die gewone lewe leef en waar jy kop bo water probeer hou, wat beteken dit vir jou?

Ons moet nooit die impak van die Evangelie vergeet nie. Ons moet nooit vergeet wat dit vir ons elkeen beteken nie. Ons moet onthou dat Jesus ons uit die modder kom optel het. Ons moet onthou dat ons eintlik op pad was na die hel, maar deur sy dood aan die kruis het ons die kans gekry om vir ewig in Sy teenwoordigheid te wees. Hiervoor is ons Jesus uit ons hart dankbaar.

Nou is dit ons beurt om iets te doen – dit is nou uit dankbaarheid. Dit is ons verantwoordelikheid om die verlossende Boodskap te gaan uitleef in die wêreld. As ons dit nie gaan doen nie, gaan baie ander die trein mis. Ons kan mos nie die Boodskap net vir onsself hou nie. Nee, ek wil mos nie hê dat die ander om my uitmis op die lewensveranderende gebeurtenis nie.

Moenie bang wees nie. Paulus kom gee vir ons ’n belofte en sê dat God ons staande gaan hou. Ja, die winde gaan soms rof waai, maar weet dat God, die almagtige God, ons staande sal hou. Ons kan agter Hom skuil. Ons hoef ons nie te steur aan óf ons dit gaan maak of nie en óf die winde te sterk gaan wees nie. Daarvoor sal God sorg. Ons moet net so ver as wat ons gaan God se Boodskap aan die ander gaan uitleef.

En onthou, dit gaan op die ou end nie oor ons nie. Dit gaan oor God, die Almagtige, wat vir my en jou uitgekies het. 27Ons wonderlike God besit al die wysheid en die kennis. Aan Hom, die enigste God, kom al die eer toe, van nou af tot in ewigheid deur Jesus Christus. Amen!

Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek