God is genoeg!
Paulus het dit nie altyd maklik gehad nie. Eintlik verwag ons dat hierdie groot man van God so bietjie van ’n binnebaan moet hê. Maar dit werk nie so nie. God ken die mens. Hy het hulle immers geskep. God ken vir Paulus en Hy weet waartoe hy alles in staat is. Daarom is Paulus toegerus met dorings om hom naby aan God te hou.
Maar Paulus was nie so ingenome hiermee nie. Hy het die aanvalle van die duiwel intens beleef. 7… Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na my toe gestuur het om my pimpel en pers te kom slaan. Hierdie struikelblok moes keer dat ek verwaand raak oor al die wonderlike geestelike ervarings wat ek al beleef het. Dit het pyn veroorsaak en Paulus was moeg daarvoor. Hy was moeg om so deur die duiwel en sy trawante gefoeter te word. Hoeveel pak moet ’n mens dan nou vir jou Skepper vat!
En soos ons vir Paulus ken het hy nie stilgebly daaroor nie. Eintlik sien ’n mens ’n stukkie opstand teen God en dit wil lyk of hy God se bystand bevraagteken. 8Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek.”
Hoor jy die rou snikke van Paulus? Sien jy so ’n stukkie van jouself in hom en in sy omstandighede? Het jy ook al vir die Here gevra om die swaarkry en lyding nou eers vir ’n tydjie uit jou lewe te neem? Ag, Here, neem tog nou asseblief hierdie pakkie! Ek kan nie meer nie! My besigheid, my werk, my medemens, my familie, die kinders, my ouers, my geld, my gemoed, my huwelik, alles Here, alles is teen my. Ek wonder eintlik of U nog daar is…
God het vir Paulus hoor roep. Hy het sy lyding gesien en dit saam met hom beleef. Daarom buk God af na Paulus en gee hom ’n kykie in sy groter prentjie: 9Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.”
God se goedheid is genoeg vir Paulus. God se goedheid is genoeg vir jou en my. Moenie jou oë vestig op die swaar of die seer waardeur jy nou gaan nie, maar plaas jou visier en jou fokus op die wete dat God oorgenoeg is vir jou. Glo met jou hele verstand dat God in beheer is. Weet dat Hy op ’n manier die swaar waardeur jy nou moet gaan, sal omdraai en gebruik tot eer van sy Naam. Jy hoef nie nou alles te verstaan nie. Al is jy nie nou in beheer van alles nie, God weet. God bly in beheer. God sal sorg. God sal vir jou deurkom.
Daar waar jy swak en buite beheer voel, met die woeste winde wat in jou lewe waai of nog gaan waai, moet jy weet dis wanneer God se krag werklik sigbaar gaan word. Ja, wanneer ons eers so ’n bietjie back off, sien ons skielik God se krag raak. Dan gee ons vir God as te ware plek om sy ding te doen en die een wonderwerk na die ander sal in jou lewe opspring.
Eintlik wil ek vir jou sê: Sit terug en watch this space. Kyk verby jou ontberinge – ja, daar waar jy so teen die aanvalle van die lewe beur – en hou jou oë stip op God. Prent dit in jou kop vas dat God se goedheid eenvoudig genoeg is. Weet dat sy krag oorgenoeg is. Daar waar jy swak is, kom God en laat jou toe om sy krag te beleef.
Teks
Om oor na te dink
Is jy swak?
Hoe groot is God se krag in jou?
Is God se goedheid vir jou genoeg?
Gebed
Vader, soms bal ek ook my vuiste en kan ek nie verstaan hoekom dit so swaar gaan nie. Soms kyk ek ook vas na die omstandighede hier om my en ek wonder waar U is. Ja, ek sukkel om swak te wees, maar ek besef dat ek baie keer in U pad staan om U wonderlike krag in my lewe los te laat. Here, ek is swak. Wees asseblief sterk vir my part. Amen