God se Woord in vandag se woorde

God is jou competitive advantage


2 Korintiërs 4:1-6

In die besigheidswêreld vra besighede ’n eenvoudige vraag: Wat maak óns beter as ons mededingers? Hoekom sal ons kliënte eerder by ons as by ons mededingers koop? Is ons pryse en ons diens beter of pas ons prys hulle sakke? Die term hiervoor is competitive advantage. Dit is baie belangrik dat elke besigheid presies sal weet wat sy mededingende voordeel in die mark is en om dit te koester en uit te bou. Die kans is dan baie beter om in ’n gevaarlike ekonomiese landskap te oorleef.

Ons moet ook weet wat ons mededingende voordeel in die lewe is. Omdat ons kinders van God is, beteken dit nie dat ons die binnebaan het nie. Dit beteken nie dat ons gevrywaar word van probleme op die pad van die lewe nie. Eintlik wil ek sê: Inteendeel! As ons uitgesproke kinders van die lewende Here is, is die kans groot dat ons eerder sterker winde op die pad gaan ervaar.

Ons het dan iets nodig om aan vas te klou. Wanneer verhoudings om my inmekaar tuimel, wanneer die mense wat ek die liefste het my erg seermaak, wanneer my droom ewe skielik soos ’n ster in die niet verskiet, wanneer my geldsake beroerd is, wanneer die een probleem na die ander aangerol kom en ek voel asof ek die plug op die lewe moet trek, móét daar iets wees waaraan ek kan hang of wat ek kan vasgryp terwyl ek weet dit sal nie onder die druk meegee nie. Ek het ’n competitive advantage nodig. Iets wat my ’n voordeel bo die branders sal gee. Iets wat my staande sal hou in die gevaarlike landskap van die lewe waardeur ons elke dag moet stap.

Paulus weet van gevaarlike landskappe. Hy weet van baie nagte in die tronk slaap. Hy weet van winde van die dood wat gedurig reg van voor na hom toe aangerol kom. Hy weet van kritiek van die mense vir wie hy lief is. Hy weet van geliefdes wat hom uithaal en tog hou hy vas. Hy hou aan God vas. Hy glo dat God hom presies geplaas het waar hy hom nou bevind. Hy glo dat God vir hom sál deurkom. God is Paulus se competitive advantage. God is die voordeel wat hy bo ander mense het. 1God is baie goed vir my. Hy het my aangestel as sy dienaar om die goeie nuus oor Christus te gaan oorvertel. Daarom kry probleme my nooit onder nie. 

Paulus het ook probleme. Ja, selfs die groot man van God wat die hele wêreld warm gepreek het en nie een klip onaangeroer gelaat het om die Evangelie uit te dra nie, selfs hy het probleme. Groot probleme. Baie probleme. Sy lewe is konstant in gevaar. Maar hy staan elke keer weer op met ’n lied in die hart. Hoekom? Want hy sien die groter prentjie. Hy weet hy is presies waar God hom wil hê. Hy doen presies wat hy móét doen. Dit waarborg nie ’n gelyk pad nie, maar tog het hy ’n voordeel bo die ander. God is aan sy kant. Te midde van die woeste winde is God nog steeds vir hom goed. God is die een waarheen hy kan gaan en waar hy rus kan kry. Dis by God waar hy sy krag kry, waar hy wysheid ontvang om die groter prentjie te sien en te verstaan.

My vriend, hierdie competitive advantage is nie net vir die groot manne en vroue van God beskikbaar nie. Nee, dit is ook vir jou en my beskikbaar. Ons kan ook, te midde van die storms en die seer en die swaar, vrede hê. God is daar vir ons elkeen. God is die rots wat nooit sal wankel nie. God wil vir ons elkeen goed wees. Ons moet net by Hom uitkom.

Ek wens so ek kan vir jou sê dat jy nooit probleme sal raakloop nie, maar dit is ongelukkig deel van die lewe. Wat ek wel vir jou kan sê, is dat daar vir jou ’n voordeel is. Die voordeel is God. Glo daaraan. Hou met alles in jou aan God vas. Glo dat God vir jou sál deurkom. Gaan sit by sy voete. Hy sal jou beslaan met wysheid. Dan kán jy weer opstaan en die lewe vierkantig in die oë kyk, want jou competitive advantage stap reg langs jou.

Om oor na te dink

Hoe groot is jou storms?

Glo jy dat God ’n plan met jou het?

Glo jy dat God saam met jou is?

Gebed

Vader, eintlik het ek die een nou so nodig gehad, want daar kom dae wat ek nie meer weet hoe ek moet koes nie. Ek is moeg van die houe van die lewe. Soms kan ek net nie meer opstaan nie. Dankie vir dié boodskap dat U daar is vir my. Help my om op te staan en met U aan die hand die lewe te face. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek