God, jou boekhouer
Daar is baie verhale van mense wat alles gehad het en toe alles verloor het. ’n Groot vriend van my het amper sy hele plaas verloor. ’n Vriend van Kruispad skryf ’n tyd terug en sê hy het so pas al sy miljoene verloor.
Niemand, maar niemand van ons kan ’n waarborg gee dat ons môre nog ons geldjies sal hê nie. Nee, ek is nie bang nie, want my geld lê stewig in die bank. ’n Paar jaar gelede toe Amerika een oggend wakker word, het een van hulle grootste banke gevou en die mense se geld was net weg.
Daar is geen waarborg vir geld nie.
WAARSKUWING:
17Waarsku die mense wat in hierdie wêreld baie geld het om nie te veel van hulleself te begin dink nie. Hulle moet nie hulle hele lewe op geld en rykdom bou nie, want dit hou nie baie lank nie. ’n Mens kan ook nie seker wees dat jy altyd geld sal hê nie.
As ons mooi gaan kyk, spandeer die gemiddelde mens amper dubbeld die tyd wat hy wakker is, om geld te verdien. Hoekom werk jy? Hoekom het jy ’n besigheid? Om geld te verdien.
Maar sodra ons dit het, moedig die advertensies op die TV, op die radio en in die Malls ons aan om daardie geld waarvoor ons so hard gewerk het, weer uit te gee. Ag, nog voor ons ons geld gesien het, is die helfte reeds uit ons bankrekening geneem.
Die hele wêreld draai om geld.
Geld is nie verkeerd nie, dit is wat ons vir geld toelaat om aan ons doen, wat verkeerd kan wees (lees weer die sin).
Daarom die raad aan alle mense: maak God die boekhouer van jou geld. Vra Sy Gees om jou te help met jou geld. Wanneer God die bestuur van jou banksake oorneem, sal selfs jy ’n groot verskil in ander mense se lewens kan maak. 18Vra hulle om hulle geld te gebruik om arm mense mee te help. Hulle moet nie suinig wees nie en moet graag met ander deel wat hulle het.
Nee, jammer, ek kom self nie eers aan die einde van die maand deur nie. Hoe dan nog uitdeel vir ander? Wie is aan die stuur van jou geldsake? Weet jy hoe hard het ek gewerk vir al die geld wat ek het?
My vriend, daar is geen waarborg nie. Môre kan alles net weg wees.
Laat God jou lei en gaan gee brood waar dit nodig is. Gaan soek plekke waar God jou beursie wil oopmaak. Gaan soek mense vir wie God wil bederf.
Hierdie is nie ’n opsie wat kinders van God kan uitoefen as ons wil nie. Nee, dit is eintlik ’n opdrag. Op ’n manier moet jou beursie ook tot bekering kom. Op ’n manier moet jou beursie oopstaan vir enige persoon vir wie God wil seën.
Ek leer baie by ’n Oom op die dorp, alhoewel ek hom nog nooit ontmoet het nie. Sy besigheid was nog baie jonk en dit het maar finansieel broekskeur gegaan. Eendag, terwyl hy op pad was na ’n waterskeidingsgeleentheid, vra hy vir God om hom te help en hy belowe dat as hulle die besigheid kry, hy 30% van sy winste vir God sal gee. Hy het die besigheid gekry en vir God sy 30% gegee. ’n Paar jaar later het hy die somme omgedraai en hy gee nou 70% vir God. Sy besigheid ploeg miljoene per maand in God se besighede in!
En jy?
Teks
1 Timoteus 6:17-21
Om oor na te dink
Hoe bekeer is jou beursie?
Vir wie vertrou jy?
Is jy ryk in God se oë?
Gebed
Here, U praat met my oor geld. Help my om my beursie te bekeer. Help my om my finansies te bestuur, want op my eie mors ek. Amen.