God in jou swaar
’n Vriend van my bel my uit die bloute vir ’n ete afspraak en ek sien hy’s nie lekker nie. Hy val eintlik met die afsaksel in die deur: My vrou wil my los! En ek sien my vriend se oë is vol water.
My woorde haak vas, want wat sê ’n mens nou?
Toe loop ek die woorde van Paulus, waar hy sy tweede brief aan die Korinte skryf, raak: 3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons. 4Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het.
Ek weet dat dit die woorde is wat my vriend nou nodig het. Op die stadium ervaar hy nie die goedheid wat van God se kant af oor ons stroom nie. Nou is dit net die seer en die pyn van die afsaksels in die pyp wat so baie geword het dat die pyp omtrent nie meer enige lewenswater wil laat uitloop nie. Dit is wat ek vir hom moes gesê het: My vriend, ek weet jy voel dit nie nou nie, maar God is goed vir ons. Al is jou pyp verstop moet jy weet en op ’n manier probeer glo dat God by jou is. Al kan jy aan niks vashou nie, hou net vas aan die wete dat God jou nooit sal los nie. Al sien jy nie lig nie, al weet jy nie hoe om hier uit te kom nie, moenie vrees nie, want God loop saam met jou! Hy hou jou hand vas, Hy het self ’n graaf in die hand om jou te help om die afsaksels uit die pyp te kry.
God is nogal nie van daardie wat hand op die bors staan en raad gee en net help planne maak nie. Nee, Hy is die een wat saam loop, saam worstel, saam planne maak én saam doen. Kan ek vir jou ’n stukkie van jou toekoms na nóú toe bring: Eendag gaan jy in die toekoms staan en terugkyk na jou lewe en na al die afsaksels wat daar was en nie meer daar is nie. Dan sal jy verwonderd staan en kyk. Met helder oë sonder die emosies in jou lyf sal jy sien dat daar altyd ’n hand in jou lewe was. Jy sal sien dat dit nie net jy kon wees wat alles gedoen het nie. Jy sal sien daar is ’n derde been en arm. Jy sal sien dat jy op ’n manier deur die stormagtige rivier gekom het.
Daar is egter nog ’n draaipunt in die storie van swaarkry. Die draaipunt kom wanneer jy verstaan dat die negatiewe omgedraai kan word in ’n positiewe: 4… Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het. God laat nie toe dat goed met ons gebeur sonder dat ons daardeur kan leer en beter aan die ander kant uitstap nie. Baie van die swaarkry is ons eie verkeerde keuses, maar wanneer ons die troos wat ons by God ontvang het met ander deel, en wanneer ons hulle met hulle swaar help, verander die negatief in ’n positief. In die swaarkry en trane wat drup, rus God ons toe om iets vir ander te doen. God wys ons aan ons eie lyf hoe voel ander mense met swaar. Dan verstaan jy en kan jy regtig met passie en begrip ander mense help.
Ek weet my vriend kry seer en is alleen. Gelukkig weet ek ook dat die groot Vertrooster met ’n sakdoek in die hand langs hom sit. Ek hoop dat God hom sal lei tot die draaipunt waar hy uit die as sal opstaan en die negatiewe sal omdraai in die positiewe. Dan, dat hy êrens in die toekoms, al is dit net vir een persoon, sal bystaan, omdat hy die pyn verstaan waardeur daardie persoon gaan.
Om oor na te dink
Wat pla by jou?
Waar moet God uithelp?
Waar moet jy gaan uithelp?
Gebed
Onse Vader, ek het hierdie woorde nou so nodig. Dankie dat ek weer kan hoor dat U deur dik en dun by my staan, al voel dit nie aldag so nie. Dankie dat ek kan uitsien na die oorwinning en dankie dat ek ook eendag ander kan help, al voel dit nou nie so nie. Amen