God is by jou
Paulus weet wat dit beteken om on the edge te lewe. Hy weet hoe dit is om baie swaar te kry. Hy weet van tye wanneer ’n mens wonder waar God is en wanneer Hy gaan ingryp en verlossing gaan bring. Hy het dit aan sy lyf gevoel en hy getuig kliphard: 10Uiteindelik het Hy my uit daardie lewensgevaarlike situasie gered. Daarom weet ek met alles in my dat God my vorentoe weer sal red wanneer ek in gevaar verkeer. Hy sal my elke keer help wanneer ek in die nood is. Paulus weet dat as daar weer swaar kom, hy nie bang hoef te wees nie, want God sal daar wees.
Dit geld presies dieselfde vir my en jou. As ons deur swaar gaan, sal God ons help om daardeur te kom. Daarom kan ons met sekerheid weet dat as ons die deur van die swaar weer sal oopmaak, God saam met ons daar sal instap! Hier is ’n waarborg: God sal saam met jou gaan, waar jy ookal is. In die swaar sal Hy jou help. Jy moet dit net in jou kop vashou: God is hier by jou.
Ek glo dit met my hele lewe, want sien, ek het al ’n paar keer in my lewe God se wonderwerk hand hier na aan die lyf ervaar:
Ek wou my bakkie verkoop, maar kry net nie reaksie op die advertensies nie. Toe bel ’n persoon met die naam Petrus my en stel baie belang, sommer ’n kontantkoper. Ek is opgewonde toe hy bel en jaag deur na Interkaap se depot naby die lughawe. Ek moet eers weer bel, want ek sien hom nie daar nie. Nee, hy’s net om die draai by die vulstasie. Ek wag ’n paar minute voordat sy broer daar aankom en net ’n rukkie later kom Petrus daar aan. Hulle is netjies aangetrek en praat goeie Afrikaans.
Ai, hulle is so in hulle skik met die bakkie, want dis presies wat hulle soek. Op hulle versoek gaan ry ons ’n entjie en hulle sê ons moet sommer daar by die lughawe indraai en daar staan en praat, want hulle wil die bakkie koop. Ons stop in die parkeerterrein en hulle bekyk sommer die enjin en alles. Ja-nee, dit is die bakkie wat hulle soek om die klere wat hulle verkoop te kan karwei. Nou net vir die geld se reël. Hulle praat gou met iemand op die selfoon en vra my om ook die persoon te bel om te hoor of die geld reg is. Die persoon verseker my dat die geld reg is.
Ewe skielik tel ek ’n onrustige bewe in my lyf op. Ek begin iets slegs te ruik. En ewe skielik is dit duidelik soos daglig: Hierdie is ’n bedrogspul. Die ouens is in die proses om my te kaap. Ek is nie goed met sulke spanningsvolle situasies nie en begin gewoonlik stotter. Wat nou gemaak? Ek probeer kalm bly. Ek probeer ’n foto van die manne neem, maar neem net Petrus se maag af. Ek bring die foon onopsigtelik nader, maar toe ek die knoppie druk om te neem, maak die foon presies soos ’n ou kamera wanneer dit ’n foto neem en Petrus en sy broer kyk albei af na my selfoon!
Ek moet hier uit! My lewe is in gevaar. Hoe nou gemaak? Ek wil maak of iemand my bel en voorgee dat daar ’n krisis by die fabriek is, toe lui die foon! Dis ’n vriend van my. Ek draai om en in twee sinne vertel ek van Petrus en die lughawe en die bakkie. My vriend was self ’n motorhandelaar was, bevestig my onrustigheid en sê dis ’n ou manier om mense te kaap en ek moet so gou moontlik daar wegkom!
Met genade van Bo kom ek uiteindelik ongedeerd uit die situasie uit.
Toe ek “die deur van swaarkry” moes oopmaak, was God daar. Dit is Hy wat my die wysheid en insig gegee het om te besef wat hier aangaan. Dit is Hy wat gesorg het vir die bewe in my lyf. Dit is Hy wat die stotter uit my gespanne lyf se stem gehaal het. Dit was Hy wat my vriend op die regte sekonde laat bel het. Dit was Hy wat my veilig bewaar het terug na die vulstasie. God was by my.
Hier is ’n waarborg: God was by my daar waar ek was. Hy het my in die swaar gehelp. Ek het dit aan my lyf gevoel, dat God hier by my is. Al is ek in die moeilikheid en al lyk dit asof ek by die dood se deur aan die klop is, voel ek dat God hier by my is. Ek kan ten volle lewe, want God is saam met my daar.
Om oor na te dink
Glo jy werklik dat God by jou sal wees as jy in gevaarlike situasies verkeer?
Is jy genoeg op God ingestel dat jy Sy stem in jou binneste sal erken?
Gebed
Here, U is die Almagtige. U kan berge versit, so magtig is U en tog hou U U op met ons as mense. U, die Almagtige, is altyd by ons. Hier langs ons. Hoe groot is U liefde vir ons dat U ons nooit alleen sal los nie! Dankie Vader, vir die versekerings dat ons nooit alleen is nie. Al moet ons deur ’n dal van doodse skaduwee, sal ons nooit alleen daar deur nie! Amen