God se Woord in vandag se woorde

God los nie – Romeine 11:1-10


Kliek hier om teks te lees: Romeine 11:1-10

God los nie

In die gedeelte is Paulus steeds aan die stoei met die volk van God. Wanneer jy dan hierdie gedeelte lees, probeer ’n mens verstaan wat is die storie met die Israeliete. Ons probeer duidelikheid kry oor die verhouding tussen die volk van God en God self en dan probeer jy vir jouself ’n lessie daaruit kry.

Tog is dit nie die sentrale punt in die gedeelte nie. In die gedeelte staan God sentraal. Dit wat God doen en nie doen nie. Hier leer ons baie meer van God as van die Israeliete of die verhouding tussen God en sy volk.

God is te groot om ten volle te verstaan. God is groter as ons menslike denke. God doen goed wat vir ons dom lyk, wat nie inpas in ons prentjie van ’n god nie. Maar God bly juis God as ons Hom nie ten volle verstaan nie. Daarom doen God goed wat vir ons oënskynlik nie altyd reg lyk nie.

5 God self het hulle uitgekies om in Hom te glo. God kies self die mense wat in Hom glo. Kom ons bring dit nader: God het vir jou en my gekies, Hy het ons naam uitgeroep om in Hom te glo. Of God almal kies, weet ek nie, maar een ding wat soos ’n paal bo water uitstaan, is dat God persoonlik vir jou en my geroep het. Verstaan jy nou die verantwoordelikheid wat ek en jy het om erns te maak met ons verhouding met die Lewende God? Dis nie sommer net ’n ou keusetjie wat ons gemaak het nie. Nee, dit is die Almagtige God wat eerste van sy kant afgebuk het en sy reddende hand na jou uitgesteek het. Ons kan dit nie wegklap of sommer speletjies maak met ons Christenskap nie. Dit is ’n ernstige saak. Die grootte God het eerste uitgereik en juis dit moet ons mobiliseer om meer erns te maak met ons verhouding met God.

5 Hy het dit nie gedoen omdat hierdie mense so goed leef nie, maar omdat Hy so ’n genadige God is. My vrou het ’n tyd terug ’n sopkombuis gaan besoek. Daar is vrouens wat elke dag bymekaar kom, groente afskil en brood smeer. Hordes daarvan. In honderde dankbare vuil hande sit hulle dan ’n stomende koppie sop met ’n lekker sny brood daarby. Omdat hulle dit verdien, omdat hulle gewerk het daarvoor? Nee, omdat die vrouens ietsie verstaan van die genade wat hulle van God ontvang.

God loop oor van genade. God bied sy verlossing vir ons aan. Juis daarom moet ons nie daarmee mors nie. Gryp dit aan, maak dit deel van jou lewe en pass dit aan.

6 Hy red mense sonder dat hulle dit verdien. Op God se CV staan: life saver. Dit is sy werk. Hy red mense se lewens. Ek het graag die TV reeks “I shouldn’t be alive” gekyk. Dit het gehandel oor mense wie se boot omgeslaan het en vir 5 dae in ’n opblaas boot rond gedobber het. Gelukkig kom daar toe ’n groot skip verby en red elke passasier. Die mense aan boord het nie eers vir hulle gevra wat hulle daar maak voordat hulle ’n lewensreddingsboei na hulle uitgegooi het nie. Hulle het nie eens gevra watter taal hulle praat en of hulle geld het om te betaal nie. Nee, hulle het hulle net gered.

God maak ook so. Hy vra nie hoeveel goeie werke jy al gedoen het nie. God vra nie of jy dit verdien sodat Hy die reddingsboei kan uitgooi nie. Nee, dis God, dis sy wese. Hy red daar waar Hy kom.

Ons dien ’n wonderlike God. God moes ons eintlik weggegooi en uitgespoeg het. Maar nee, Hy het ons te lief en daarom oorstroom Hy ons met genade. Weer en weer en weer.

Halleluja! Prys sy wonderlike Naam.

Om oor na te dink

Wat beteken dit om deur genade alleen gered te word?

Hoekom kies God juis vir jou?

Hoe kan jy jou dankbaarheid in jou dade weerspieël?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek